Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Tasha en ‘Barbie’ op bergpiek

Deur: André Damons 2012-12-24 05:55

DIE Laerskool Willem Postma in Bloemfontein se vlag het saam met die landsvlag op Kilimandjaro gepronk toe ’n Bloemfonteinse meisie die hoogste punt in Afrika (5892m) bereik het.

Op die ouderdom van 10 jaar, vier dae en ’n paar uur, is Tasha Cronjé (10), ’n gr.3-leerling van die Laerskool Willem Postma, nou een van die jongste mense en die jongste vrou wat dié berg se Uhuru-piek kon bereik.

Sy het haar verjaardag op 16 Desember op 2800 meter gevier.

Haar Barbie-pop het Vrydagoggend saam met haar van die piek af oor die Afrika-landskap uitgekyk.

Sy moes erge koue, naarheid en ure se stap – wat ander kinders en ouer mense laat omdraai – trotseer om die toppunt te bereik

“Ek voel wonderlik. Dit het nog nie ingeskop nie en gaan seker inskop as ek teruggaan skool toe.

“Ek gaan die beste vakansie-storie hê,” het die babbelende meisie gister gesê.

“Dit was baie koud en het dit gevoel of my vingers wou afval.”

Sy het 11 maande lank voorberei voordat sy die berg aangedurf het.

“My pa (Henk) het gevra of ek wil saamgaan. Toe oefen ek en die volgende oomblik staan ek op die berg. Die lekkerste deel was toe ons op 4600 meter by die waterval in die sneeu op en af klouter.”

Die slegste deel was al die energiedrankies wat haar ma haar ingegee het, sê sy.

Tasha se ma, Danielle, sê dit was lekker om tyd saam met haar dogter te bestee.

Sy het haar dogter se prestasie as ’n emosionele, ongelooflike en wonderlike ervaring beskryf.

“Dit is ’n ontsettende ervaring met groot en sielkundige uitdagings vir ’n kind. Dit is ’n risiko en ’n mens besef dit nie altyd nie. Ons is baie trots op haar.”

Sy sê haar dogter is ’n uithouer met hope wilskrag. Sy het vasgebyt en het nie een keer gekla of gesê sy wil omdraai nie.

Hoewel dié klein avonturier se swerftogte nog lank nie verby is nie, is die volgende groot uitdaging eers gr. 4, wat ’n berg op sy eie is, sê haar ma.

) Vir foto’s van Tasha se tog teen Kilimandjaro besoek haar Facebook-blad by www.facebook.com/Tasha.Kilimanjaro.

Volksblad
«Terug