Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Cradock-skool gesluit ná hoof se dood

2012-07-22 11:45

CRADOCK. – Die Laerskool Cradock sal vanoggend gesluit wees ná die gru-botsing waarin die skoolhoof, Wimpie van der Merwe (53), gesterf het en talle leerders en onderwysers beseer is.

Van der Merwe het die skoolbus bestuur waarteen ’n minibus-taxi Saterdagoggend op die pad na Graaff-Reinet gebots het.

’n Noodvergadering met verteenwoordigers van die onderwysdepartement word vanoggend by Laerskool Cradock beplan, het Michael Lord, voorsitter van die skool se beheerraad, aan Volksblad gesê.

“Die skool is voorlopig gesluit weens ’n gebrek aan onderwysers.”

Benewens die verlies van Van der Merwe het vier van die skool se senior onderwysers ernstige beserings in die ongeluk opgedoen en word hulle in hospitale in Bloemfontein en Port Elizabeth behandel.

Dit sluit in die adjunk-skoolhoof, Alfie Blume, asook Mariette Adams, Jacques de Meillon en Ray-Jéan Wright. Nog ’n onderwyser, Henry Green, het ligte beserings opgedoen.

Adams is ná ’n operasie aan haar kakebeen ontslaan.

Wright se linkerarm se twee pype is af en sy regterpinkie is gebreek. De Meillon word in Rosepark in Bloemfontein se hoësorgeenheid vir ’n ernstige rugbesering behandel.

Lord het gesê Van der Merwe se dood is ’n groot verlies vir die skool. Hy het hom as hardwerkend en toegewyd beskryf en gesê vandat hy drie en ’n half jaar gelede van Laerskool Ankervas, naby Uitenhage, Cradock toe gekom het, was hy bekend vir sy empatie met dié wat minderbevoorreg is. Hy was baie trots op die skool se o.13-rugbyspan, wat hy self afgerig het.

’n Baie geskokte en verslae Elsabé van der Merwe het gesê haar man sal altyd onthou word vir sy groot liefde vir treine. Hy het in sy leeftyd meer as twintig rugbytoere met belangstellendes na groot wedstryde onderneem en ook van die skool se kinders aan die genot van treinreis bekend gestel.

Van der Merwe word oorleef deur sy vrou, Elsabé, ’n seun Luwaldo, en drie stiefkinders, Theo, Elsa en Charles Ferreira.

Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.
Volksblad
«Terug