Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Tronke in VS, NK bly oorvol

Deur: Jana van der Merwe 2012-07-06 21:52

AL is nagenoeg 6000 misdadigers die afgelope tien weke in die Vrystaat en Noord-Kaap op spesiale vergunning van pres. Jacob Zuma vrygelaat, is die krisis van oorvol tronke in dié provinsies nog lank nie opgelos nie.

Altesaam 26 van die vrygelate misdadigers in dié twee provinsies is sedertdien weer weens misdade in hegtenis geneem. Twee van hulle het ná hul vrylating vroue verkrag.

Die laaste 596 gevangenes wat afslag op hul vonnisse gekry het, is gister oor die land heen vrygelaat.

Grace Molatedi, adjunk-streekkommissaris van die departement van korrektiewe dienste (DKD), het gister gesê ondanks die heroortredings, is die DKD tevrede met die afloop van die vrylatingsproses.

“Ons het sover moontlik hande gevat met ander departemente soos binnelandse sake en maatskaplike ontwikkeling, asook nie-regeringsorganisasies, om gevangenes ná hul vrylating daar buite te ondersteun.

“Ons het baie suksesverhale met oortreders wat oor begin het en wie se vorige werkgewers hulle weer in diens geneem het.”

Molatedi het egter erken die probleem van oorbevolking is nie opgelos is nie.

“Dit het vir seker druk verlig, maar soos ons mense vrylaat, so doen ander departemente hul werk en kom nuwes in.”

Sy sê twee van die gevangenes wat vrygelaat is, het daarna vroue in Kimberley en op Wepener verkrag.

Opposisiepartye en kenners meen die DKD het nie die vrylatingsproses verantwoordelik uitgevoer of deeglik voorberei daarvoor nie.

Dr. Johan Burger, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), meen die DKD het onverantwoordelik opgetree om sonder voldoende individuele evaluerings misdadigers, onder wie geweldsmisdadigers, doodluiters vry te laat.

“Baie van die oortreders is aan hul eie genade oorgelaat sonder enige ondersteuningstrukture daar buite. Navorsing met die vorige proses in 2005 het getoon baie is herderloos en sonder heenkome vrygelaat.”

Hy sê sielkundige evaluering van veral geweldsmisdadigers is belangrik. Burger meen die onverantwoordelike vrylating kan ’n hele nuwe groep slagoffers tot gevolg hê.

Abrie Oosthuizen, leier van die VF+ in die Vrystaat, meen dit was onbillik teenoor die samelewing om ’n groot aantal geweldsmisdadigers doodluiters vry te laat. Hy meen meer gevangenisse moet gebou en geprivatiseer word.

“Dit is die regering se plig om die veiligheid van sy wetsgehoorsame burgers te verseker.”

Beatrice Magau, sekretaris van Cope se vrouebeweging in die Noord-Kaap, sê daar moet deeglik gekyk word na kriteria waarvolgens mense vrygelaat word.

“Die paroolraad moet eers seker maak dat die oortreders gerehabilteer is en daar moet voldoende gekonsulteer word met gemeenskappe om seker te maak dat vrygelate persone genoeg steun kry. Seksmisdadigers moenie op parool of op borgtog vrygelaat word nie.”

James Selfe, DA-woordvoerder oor korrektiewe dienste, het die vrylatingsproses skerp gekritiseer weens die gebrek aan voldoende voorbereiding en die verskeie gevalle van heroortreding van vrygelate gevangenes. Selfe sê die departement moes sy les met die vorige vrylatingsproses in 2005 geleer het.

“Die minister het baie vrae om te beantwoord.”

Volksblad
«Terug