JOHANNESBURG. – Die departement van verdediging wou normale verkrygingsprosedures omseil om pres. Jacob Zuma se nuwe BBP-stralers te bekom.
Die departement wou geld wat hy van die Europese vliegtuigvervaardiger Airbus terugontvang het, gebruik om vir die nuwe stralers te betaal.
Lindiwe Sisulu, voormalige minister van verdediging, het Pravin Gordhan, minister van finansies, verlede maand in ’n brief gevra om die normale prosedures te omseil omdat dit ’n “saak van nasionale veiligheid” was.
Volksblad verstaan dit was deels omdat ’n huursoldaat verlede jaar aan die stuur van ’n huurvliegtuig met Zuma daarin was omdat die lugmag nie vlieëniers daarvoor gehad het nie.
“Verskeie probleme met huurvliegtuie die laaste twee jaar was ’n verleentheid vir die regering,” het een ingeligte gesê.
Die proses is vir eers tydelik gestaak omdat Sisulu verlede maand as minister van verdediging vervang is, het Volksbladverneem.
Ndivhuwo Mabaya, Sisulu se woordvoerder, het gister gesê sy wou nie hê die nuwe minister moes in die pos aankom en kwitansies van R2 miljard kry nie.
Mabaya het gesê die taakspan wat na die aankope van die nuwe BBP-stralers gekyk het, het verteenwoordigers van die tesourie en die ouditeur-generaal ingesluit.
“Wat die proses betref, was alles bo verdenking.”
Zuma se verantwoordelikhede as president, onder meer vanweë Suid-Afrika se lidmaatskap van Brics (Brasilië, Indië, China, Suid-Afrika), maak dit noodsaaklik om betroubare presidensiële stralers te hê.
“Ons betaal baie geld om vliegtuie te huur. Dit sou goedkoper wees op lang termyn om die vliegtuie te koop,” het Mabaya gesê.
Die departement van verdediging het einde Mei met die finale proses begin om nuwe BBP-stralers te bekom. Die departement het drie vliegtuigvervaardigers – Boeing, Airbus en Bombardier – genader en gevra of hulle teen 15 Julie 2012 twee BBP-vliegtuie aan die departement kan verskaf.
Na verneem word, kon slegs Boeing aan dié vereistes voldoen.
Dit is steeds onseker of die transaksie finaal bekragtig is of nie. Die departement van verdediging het steeds nie kommentaar oor die kwessie gelewer nie. Boeing wou ook nie kommentaar lewer nie.
Die departement het in 2011 ’n terugbetaling van sowat R3,5 miljard van Airbus ontvang weens die kansellasie van die A400M-vragvliegtuigkontrak in 2010.
David Maynier, DA-LP, het gesê hy het die openbare beskermer gevra om die saak te ondersoek. “Ek wil ook hê die nuwe minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, moet sê of die transaksie nou finaal voortgaan of nie.”
Volksblad