Volksblad

Vreemde weer vir eers verby

Deur: André Damons en Kaydene Jordaan 2012-06-22 22:58

DIE vreemde Kaapse weer wat Vrystaters die laaste paar dae moes trotseer, is vir eers verby, sê die Suid-Afrikaanse Weerdiens.

Die laaste reën sal na verwagting vandag in die provinsie val en teen môre sal dit weer opklaar, sê Aslam Sardiwalla, weervoorspeller van die Bloemfonteinse weerkantoor.

Dit gaan steeds koud wees, maar sonnig, sê hy.

Die winterreënval is in ’n mate vreemd, maar nie ongewoon nie.

“Dit is nie heeltemal ongewoon nie. Dit kan tot vier keer in die winter reën. Daar het minder reën vanjaar geval as verlede winter.

“Verlede jaar het daar sowat 50mm reën binne 24 uur geval. Die meeste reën het in die eerste twee weke van Junie 2011 voorgekom,” sê Sardiwalla.

Sedert eergister 14:00 tot gistermiddag het 34mm reën in die Rosestad geval. Gister teen 08:00 het 40mm reën in Langenhovenpark in die stad geval, 16mm op Ficksburg en 13mm op Bethlehem.

Sardiwalla sê vandag is daar ’n kans van 30% vir reën in die sentrale en westelike dele van die Vrystaat en ’n 60%-kans op reën vir dele van die Oos-Vrystaat.

Vrystaatse boere het die reën verwelkom en gesê dit was nodig.

Flippie Blignaut van die plaas Sardinia in die Bulfontein-distrik sê tussen 15 en 20mm reën het sedert eergister op sy plaas geval.

“Dit help baie vir die volgende plantseisoen. Die reën was baie nodig vir weiding.”

Volgens Marinus van der Berg van die plaas Sadowa in die Zastron-distrik het die reën op die regte tyd gekom, want dit het begin droog word en voer het min geraak.

Hy sê 65mm reën het sedert Woensdagaand geval.

Chris Nel van die plaas Uitzicht tussen Koffiefontein en Luckhoff sê hoewel 32mm reën op sy plaas geval het, het dit slegs plek-plek in die Koffiefontein-distrik gereën.

Hy sê die reën bied uitkoms vir boere met bossieveld, maar nie juis vir boere met grasveld nie.

Volksblad
«Terug