INWONERS van ’n woonstelkompleks in Zylenastraat, waar die huiswinkel is waar Annetjie Madden (62) doodgesteek is, het gister met skok gereageer ná haar dood.
Die groepie vroue, wat nie hul name genoem wil hê nie, sê hulle het nooit gedink hul vriendin sal op só ’n wyse sterf nie.
Volgens hulle was Madden, ’n weduwee wat nie kinders gehad het nie, ’n geliefde mens en bekend op die dorp.
“Sy was baie bekend en bemind. Almal het by haar melk gekoop.
“Sy was vriendelik en vrolik en het altyd reg gestaan om mense te help. Ons het vanoggend nog gestaan en grappies maak met haar,” het een vrou gesê.
Nog een het gesê Madden was baie gesteld op netheid.
“Sy was ’n pynlike netjiese mens. Sy het alles gevee – tot die straat.”
’n Ander vrou het gesê Madden was ’n toegewyde werker, wat altyd op haar pos in die winkel was, selfs al was sy siek.
Volksblad