HOWICK. – Hy het ’n eed geneem dat hy mense sou red, en daarom het brandweerman Ronnie Ndlovu gister ’n vrou uit die Howick-waterval gered.
Die vrou, wat selfmoord wou pleeg deur by die waterval af te spring, het op die randjie van die val bly lê en aan rotse vasgeklou. Net haar kop was sigbaar tussen die wit watermassa wat om en oor haar gebruis het.
Ndlovu (39) het ná die redding gesê hy kon nie wag totdat professionele redders opdaag nie.
“Ons het ’n eed geneem om mense se lewe te red. As ek haar nie gaan red het nie, sou ek nie met myself kon saamleef wetende dat ons haar kon gered het, maar niks gedoen het omdat ons vir professionele redders gewag het nie,” het Ndlovu gesê.
Hy het ’n tou om sy lyf gebind, waarvan die ander kant deur polisiemanne en sy kollegas vasgehou is. Hy het deur die water geklim tot op die kantjie van die waterval van sowat 95m.
“Ek het ’n tou om haar middel gebind sodat sy uitgetrek kon word.”
Ndlovu het ná die redding gesê ’n mens moet nooit twee keer dink nie, jy moet doen wat jy eerste gedink het, want dit is die regte ding.
Ndlovu was eers ’n taxi-bestuurder voordat hy ’n brandweerman geword het.
“Ek het eers ná die redding bang geword vir wat kon gebeur het.
“Ons het nog nooit iemand in die waterval gered nie omdat niemand dit nog ooit oorleef het nie. Ons is gewoond daaraan om onder die waterval na lyke te soek.
“Dit was regtig die eerste keer dat ons ’n oorlewende het.”
Stan Goodenough van Vriende van die Waterval, het die vrou eerste in die water gesien. Hy het die polisie ontbied.
“Dit was verstommend om te sien hoe ’n groot brandweerman sy lewe waag om die vrou te red,” het Goodenough gesê.
Die vrou is in die Northdale-hospitaal opgeneem. Sy het gesê haar baadjie het aan rotse vasgehaak, het Mandisa Dlamini, woordvoerder van die hospitaal, gesê.
Die vrou was na verneem word vroeër die dag in die Howick-landdroshof oor ’n familie-vete waar haar familie toe aangesê is om self die vete op te los.
Haar ma, wat op die reddingstoneel was, het gesê sy dank God dat haar dogter gered is.
Volksblad