INA VAN WYK (67), die boervrou van die Oos-Kaap wat verlede maand per ongeluk gif pleks van hoesstroop gedrink het, sê sy sê nou elke oggend dankie dat sy wakker geword het.
Sy is terug op haar plaas Fonteintjie en sy sê sy het ’n tweede kans gekry.
Sonja Oosthuysen van Bethulie sê dit is ’n wonderwerk dat haar ma het so goed herstel het nadat sy Ectodex (’n hondedip-middel) gedrink het.
“Sy het nou weer ’n hoesbui, maar sy maak nou dubbel seker voordat sy selfs sout oor haar kos gooi.”
Van Wyk was twee dae in die intensiewesorgeenheid van Life-Rosepark-hospitaal in Bloemfontein. Ná nog ’n dag in die hospitaal is sy ontslaan.
“Sy was soos ’n celeb in die hospitaal. Hulle het haar die ‘giftannie’ genoem,” sê Oosthuysen.
Esmarie Cronjé, hospitaalwoordvoerder, sê hulle was verbaas hoe gou sy herstel het.
“Dit het baie goed gegaan met haar.” Ectodex is ’n middel teen brandsiek, luise en vlooie. Om dit op honde te gebruik, moet 50ml in 5liter water verdun word.
Van Wyk is ’n weduwee wat met skape op haar plaas tussen Venterstad en Steynsburg in die Oos-Kaap boer.
Sy sê sy voel baie dankbaar vir almal wat haar gehelp het.
“Ek weet nie wie my almal gehelp het nie, maar ek wil vir almal dankie sê. Ek wil selfs dankie sê vir my siekefonds wat bereid was om my Bloemfontein toe te laat vlieg.”
Haar dogter het veiligheidshalwe haar hondedip-middel by haar gevat en Van Wyk sê sy sal haar miniatuur-Dobermann, Frikkie, nou maar daar gaan was.
Volksblad