Volksblad

Vroue-krieketbaas sterf op Vrouedag

Deur: Gerdie Karstens 2012-08-09 23:18

KIMBERLEY. – Die land se enigste vrou as krieketbaas, Elise Lombard, is gister op Vrouedag oorlede.

Die Suid-Afrikaanse krieketgemeenskap is gister in rou gedompel deur die skielike afsterwe van die uitvoerende hoof van die Noordelikes-krieketunie en Titans-bedryfsreg in Centurion.

Sy het aan ’n hartaanval beswyk.

Lombard, die enigste vrou in beheer van een van die ses bedryfsregte in Suid-Afrika, was Woensdag nog ’n gasspreker op ’n geselligheid van Krieket Suid-Afrika (KSA) ter viering van Vrouedag.

Sy was 32 jaar lank by Noordelikes betrokke en sal veral vir haar toewyding tot die spel onthou word.

Vincent Sinovich, president van die Noordelikes-krieketunie, het gister Lombard se skielike heengaan betreur. “Dit is ’n reuse-skok vir ons almal. Almal is platgeslaan deur die nuus. Sy was nog by KSA se Vrouedag-vieringe betrokke en het vanoggend (gister) nog op televisie verskyn. Ek het haar 32 jaar gelede aangestel.

“Sy is iemand wat baie toegewyd was en veral in die gemeenskap teruggeploeg het. Die verlies is baie groot. Ons diepste meegevoel aan Eloise en Rudi, Louis en Karen en kleinkinders George en Mia,” het ’n hartseer Sinovich gister gesê.

Krieket Suid-Afrika se waarnemende uitvoerende hoof, Jacques Faul, het gister sy skok oor haar dood uitgespreek. “Dit is ’n geweldige slag vir ons almal en een wat die hele KSA-familie raak. Namens alle spelers en ondersteuners van die spel wil ek my diepste meegevoel aan haar familie, vriende en kollegas betuig.

“Sy was net gister nog ’n gasspreker op KSA se geselligheid ter viering van Vrouedag. En eie aan haar natuur het sy nog kans gekry om aan Mark Boucher ’n boodskap van beterskap te stuur,” het Faul gesê.

Haar skielike dood het gister ’n massa troos-boodskappe op die kletsblad Twitter ontlok, met spelers, afrigters en bekende krieketlui wat haar heengaan betreur het.

“RIP Elise Lombard! Wat ’n vrou sedert my buiging vir Noordelikes in 1983! Het my eerste bonustjek daardie seisoen geteken... R4.63! Groot verlies vir Suid-Afrikaanse krieket,” het die gewese Protea-draaier Pat Symcox getwiet.

“So hartseer om van Titans-hoof Elise Lombard se dood te hoor. Was ’n ongelooflike vrou wat so baie vir Titans gedoen het en altyd met ’n glimlag,” het die Proteas en Titans se veelsydige Faf du Plessis gewiet.

“SA A-groep en bestuur se diepste meegevoel aan Elise Lombard se gesin en die Titans oor haar skielike heengaan,” het Vincent Barnes, afrigter van die SA A-span, gesê.

Ook die voormalige Protea-paaltjiewagter Mark Boucher, wat tans van sy oogbesering herstel, het sy meegevoel uitgespreek. “My meegevoel aan al die familie en vriende van Elise Lombard van Titans-krieket.”

Die begrafnis-reëlings moet nog bekend gemaak word.

Volksblad
«Terug