Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Vuiste klap in skolerugbywedstryd

Deur: Hilda Fourie 2012-07-23 10:38
 ’n Rugbyspeler van die Hoërskool Centurion het die eerste vuishou geplant nadat hy verskeie kere gedurende ’n wedstryd die k-woord toegesnou is.

Só het Johan Cloete, sporthoof van die Hoërskool Centurion, gister gesê oor die geveg wat eergister uitgebreek het op die Hoërskool Zwartkop, Centurion, se veld.

Dit het gebeur nadat die eindfluitjie geblaas het in ’n eerstespan-wedstryd teen die Hoërskool Centurion.

Die kakebeen van Jean Grobler (18) van Zwartkop is gister in ’n operasie in die Unitas-hospitaal in Centurion herstel nadat dit afgeslaan is.

J.P. Jonker (17), ook van Zwartkop, het ’n wangbeenfraktuur opgedoen. Sy linkeroog is bykans toegeswel.

Dr. Elsabé Conradie, voorsitter van die beheerliggaam van Centurion, het gistermiddag laat ’n verklaring namens die skool uitgereik en gesê die “rassistiese aanmerkings deur die spelers en sommige ouers van Zwartkop is reeds in wedstryde van junior spanne ge­opper”.

Van die aanmerkings wat, benewens die k-woord, herhaaldelik uitgeskree is, is “huursoldate”, “h*****te”, “orang-oetang” en “Kaapse Klopse”, luidens die verklaring.

Cloete stem saam dat die rassistiese aanmerkings tot die situasie gelei het.

“Ons stut, Dyan van der Westhuizen, is heeltyd ’n k***** genoem,” het Cloete gesê.

“Dyan en ons kaptein het daaroor by die skeidsregter gekla, maar dié het net gesê hy kan dit nie help as die ander hom ’n k***** noem nie. Die skeidsregter het nie die konfliksituasie goed hanteer nie.

“Toe die eindfluitjie blaas en die een speler Dyan weer ’n k****r noem, het hy die eerste hou gegee. Hy was uitgelok.”

’n Leerling wat van die kant op die veld gehardloop het, het J.P. na bewering geslaan.

J.P. het gesê teen die einde van die wedstryd het Dyan vir Stefan Stronach (Zwartkop se slot) op die mond geslaan.

J.P. het toe vir Dyan geslaan.

“Ek hét hom (Dyan) geslaan, want Stef is een van my beste vriende. Maar dit is deel van die emosies van die game,” het J.P gesê.

Johnny Grobler, Jean se pa, het gesê hy het op die pawiljoen gesit toe hy sien hoe ’n toeskouer op die veld hardloop. Die volgende oomblik het dié persoon iemand geslaan en toe sien hy hoe Jean val.

“Chaos het uitgebreek, want al die ouers is toe op die veld en probeer net keer,” het hy gesê.

“Jean was nie betrokke nie. Hy wou die spelers uitmekaar kry toe iemand hom van agter slaan. Ons weet nie wie hom geslaan het nie.”

Bertus Myburgh, voorsitter van Zwartkop se beheerliggaam, het gesê vuishoue is deur albei skole uitgedeel.

Volgens Myburgh het toeskouers van Centurion in die bakleiery betrokke geraak en dat toeskouers van Zwartkop op die veld gekom het om die bakleiery te stop.

Cloete het gesê leerlinge van albei skole het op die veld gekom en gebaklei. Albei skole se onderwysers het probeer ingryp.

Cloete en Myburgh het gesê hulle sal ’n video-ontleding en ’n interne ondersoek doen. Tugstappe gaan kom teen spelers wat hulle aan vuilspel skuldig gemaak het.

Luidens die verklaring gaan die Hoërskool Centurion nie die saak hier laat nie en sal die saak verder hanteer deur die Hoërskole-rugbyvereniging.

Beeld
«Terug