PRETORIA. .– Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, wat tot onlangs waarnemende polisiehoof was, het glo nie veiligheidsklaring gehad dat misdaadintelligensie aan hom rapporteer soos hy beveel het nie.
Ná lt.genl. Richard Mdluli, voormalige hoof van misdaadintelligensie, se skorsing het Mkhwanazi aangekondig misdaadintelligensie moet direk aan hom rapporteer.
Na wat betroubaar verneem word, het Mkhwanazi se hoogs geheime veiligheidsklaring verval nadat hy die bevelvoerder van die spesiale taakmag was sedert 2005.
Dié hoogs geheime veiligheidsklaring, wat vereis word as hoof van misdaadintelligensie, moet elke vyf jaar hernu word sodat die regering kan weet of die persoon in dié tydperk reëls oortree het.
Mkhwanazi het glo twee jaar gelede weer aansoek gedoen om hoogs geheime veiligheidsklaring, maar die veiligheidsondersoek is nooit deurgevoer nie.
As deel van die ondersoek moet die applikant die konfidensiële Z204-veiligheidsklaringvorm invul en ’n poligraaftoets ondergaan.
Daar word in die poligraaftoets vrae gevra soos onder meer het jy al dwelms gebruik, het jy al ooit staatseiendom beskadig, het jy al iets gesteel, misbruik jy drank en hang jy in bordele uit.
Daar is wyd en in die media berig dat Mdluli se hoogsgeheime veiligheidsklaring ook verval het terwyl hy na bewering die misdaadintelligensie se geheime fonds vir onder meer sy eie gewin gebruik het.
Ná maande se heen en weer met die Mdluli-sage het die polisie hom amptelik aangekla van korrupsie, nepotisme en wanbestuur van misdaadintelligensie se geheime fonds.
Luidens ’n kennisgewing en klagstaat wat aan Mdluli beteken is, moet hy op 2 Julie voor ’n interne tugkomitee in Pretoria verskyn.
Kol. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê sekere prosesse wat oor staatsveiligheid gaan, kan nie net bekend gemaak word sonder dat ’n ondersoek gedoen is nie.
“Die veiligheidsondersoeke is ’n deel van die teeninligtingsdiens wat deur die nasionale strategiese intelligensie-wetgewing in plek gestel is om alle staatsorganisasies, persone, fisieke hulpbronne en strategiese plekke te beskerm.
“Dit sal onvanpas wees om sulke prosesse of maatreëls in die openbaar te bespreek,” het Naidoo gesê.
Hy wou nie sê of daar ’n ondersoek begin is oor Mkhwanazi se veiligheidsklaring nie.
Volksblad