Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Wonderwerk man leef

Deur: Susan Cilliers 2012-12-24 05:55

RUSTENBURG. – ’n Man wat Vrydag in ’n rooftog deur die kop geskiet is, het gister self hier vertel hoe hy dié skoot wonderbaarlik oorleef het.

“Ek is baie gelukkig om te leef,” het Ben Welthagen (60) in die Life Peglerae-hospitaal in Rustenburg gesê. “Dis ’n wonderwerk. Ek het ’n tweede lewe gekry. Die Here het die koeël gelei.”

Welthagen is omstreeks 08:00 Vrydagoggend in ’n rooftog by ’n plaaswinkel naby Mooinooi sowat 42km buite Rustenburg geskiet.

Die koeël is deur sy regteroogbank, skuins na onder deur sy sinuskanale, linkerbo- en onderkaak en onder sy linkeroor by sy nek uit. Geen lewensbelangrike dele, slagare of enige deel van sy brein is getref nie.

Welthagen se swaer, Theuns van Staden, het boonop op pad hospitaal toe ’n pap wiel gekry. ’n Weldoener het by hulle gestop en Welthagen na die hospitaal gebring.

Welthagen verhuur die plaaswinkel waar hy geskiet is aan Hassan Hoessein, ’n Bangladesjer.

Die Welthagen-egpaar het gister vertel hulle was Vrydagoggend in hul huis langs die winkel toe ’n werknemer uithardloop en om hulp roep.

Welthagen het nader gestap. “Een rower het my met ’n mes aangeval. Toe druk ’n ander sy pistool teen my bril en skiet.

“Dit het soos ’n ontploffing gevoel, asof ’n elektriese skok deur my gaan. Aanvanklik was daar geen pyn nie. Ek het net gehoop niks belangriks is getref nie. Die rower het die pistool agter in sy broek gedruk en weggeloop.”

Welthagen se vrou, Kotie, het vertel haar man het ná die skoot bly staan en vir haar gesê hy is in die gesig geskiet. “Toe sien ek net bloed. Dit was ’n erge ondervinding.”

Ben Welthagen het op pad hospitaal toe “nie een oomblik” gedink hy gaan dit nie maak nie. “Ek het baie gebloei, maar kon voel my asemhaling is normaal en ek was by my volle positiewe.”

Stukkies glas van sy bril is Vrydagmiddag uit sy regteroog verwyder en ’n skeur in die oogbal is herstel, maar dit is nog nie seker hoe erg die skade is nie.

Sy gebreekte onder- en bokaak sal vir die volgende ses weke met drade aan mekaar vasgeheg bly om aan te groei. Verskeie van Welthagen se tande het ook in die slag gebly.

“Die swart gemeenskap by ons is woedend,” het Welthagen gister vertel. “Hulle is dik vir misdaad en het beloof om die skuldiges te help soek.”

Een van die vyf vermeende rowers is intussen vasgetrek danksy inligting wat die polisie ontvang het, het kapt. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoord-voerder, gesê. “Nog inhegtenis-nemings word binnekort ver-wag.”

Die rowers het met leë hande gevlug.

Volksblad
«Terug