Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Zimbabwe sal mielies moet invoer

2012-08-17 22:42

PRETORIA. – Zimbabwe sal op groot skaal mielies moet invoer omdat dié land se mielie-oes vanjaar minder as die helfte van die plaaslike verbruik is.

Dié waarskuwing kom van Charles Teffs, president van Zimbabwe se Commercial Farmers’ Union.

Zimbabwe het ’n paar jaar gelede nog genoeg kos geproduseer om homself te voed en boonop te kan uitvoer.

Teffs het in ’n verklaring gewaarsku die mielies sal ingevoer moet word teen die agtergrond van ’n wêreldwye tekort.

Hy het ook daarop gewys dat Zimbabwe nie mielies uit Suid-Afrika kan invoer nie omdat geneties aangepaste mielies hier aangeplant word en dit nie in Zimbabwe toegelaat word nie.

Die land se boere het vanjaar 27 170 ton mielies gelewer. Die vereiste minimum is 36000 ton.

Teffs het gesê die situasie word vererger deurdat miljoene dollars aan saad- en kunsmismaatskappye geskuld word. Krediet is skaars en rentekoerse baie hoog.

– Sarel van der Walt

Volksblad
«Terug