Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Zuma wil gelyke betaling verpligtend maak

Deur: Alet Rademeyer 2012-08-09 23:18

PRETORIA. – Die Wet op Gelyke Indiensneming gaan gewysig word om nuwe maatreëls in te stel om die beginsel van gelyke betaling vir gelyke werk af te dwing.

Pres. Jacob Zuma het gister op die Vrouedagviering by die Uniegebou in Pretoria gesê vrywillige meganismes vir geslagsgelykheid werk nie.

Daarom is die ministerie vir vroue, kinders en gestremdes opdrag gegee om dringend na die geslagsgelykheidswet te kyk sodat dit in alle samelewingsektore afgedwing kan word.

Hy het gesê daar sal strafmaatreëls vir werkgewers wees wat nie ’n gelyke indiensnemingsplan het nie.

“Geslagsgelykheid is ’n grondwetlike opdrag en word deur ander regsinstrumente afgedwing.”

Zuma het gesê vordering word gemaak om vroue in leierskapsposte te kry en die ANC is vasbeslote om sy 50-50-teiken te bereik.

Hy het gesê die verteenwoordiging van vroue in die parlement het van 27,8% in 1994 tot 44% in 2009 toegeneem.

In die uitvoerende gesag is 14 vroue ministers, 15 adjunk-ministers, terwyl 5 van die 9 premiers ook vroue is.

Zuma meen egter dis ontstellend dat daar steeds maatskappye is wat geen vroue as direkteurs of uitvoerende bestuurders het nie.

Hy het ook gesê vroue se toegang tot gesondheidsorgdienste het verbeter en beleide is met mening toegepas om vir almal toegang tot gratis anti-retrovirale behandeling te gee. Die doel is om teen 2014 sowat 2,5miljoen mense toegang hiertoe te gee.

Zuma het ook oor geweld teen vroue gepraat en gesê huishoudelike geweld is nie ’n private aangeleentheid nie, maar ’n misdaad wat by die polisie aangemeld moet word. Hy het verwys na die onlangse verkragting van ’n 94-jarige vrou en gesê dit dui op ’n siekte in die samelewing wat uitgeroei moet word.

Nomvula Mokonyane, premier van Gauteng, het gesê 21000 mense het die verrigtinge gister bygewoon. Hulde is gebring aan vroue soos Lillian Ngoyi, Helen Joseph, Sophie Williams-De Bruyn, Albertina Sisulu en Charlotte Maxeke, wat hulle vir vryheid en geregtigheid beywer het.

Volksblad
«Terug