Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Zuma wil kommissie van ondersoek aanstel [Lonmin]

Deur: Hilda Fourie 2012-08-17 22:42

MARIKANA. – Pres. Jacob Zuma gaan ’n kommissie van ondersoek aanstel om te bepaal presies wat tot die Lonmin-bloedbad gelei het.

Zuma het sy sake op die beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in Maputo, Mosambiek, kortgeknip en na Marikana gevlieg “om in die uur van rou saam met die mense van Noordwes, die mynwerkers, die families wat mense verloor het en die polisielede te wees”.

Die president het die skietvoorval gisteraand op ’n mediakonferensie hier as skokkend en onaanvaarbaar beskryf.

Hy het gesê dit is nodig om die waarheid vas te stel van wat presies eergistermiddag in die skietgeveg tussen polisielede en stakende mynwerkers van Lonmin se Marikana-myn gebeur het.

Dít is waarom hy ’n kommissie van ondersoek wil aanstel. Volgens Zuma sal dié aanstelling binnekort gedoen word.

“Die kommissie van ondersoek sal ons in staat stel om by die ware oorsaak van die voorval te kom en vir ons die nodige lesse gee wat ons hieruit moet leer,” het Zuma gesê.

“Vandag is nie die geleentheid om mekaar te blameer of vingers te wys nie, maar dit daag ons uit om kalmte te herstel en die pyn van die families wat deur die voorval geraak is, te deel.

“Ons moet saam as ’n nasie rou. Maar dit is ook die dag om te begin herbou en genees.”

Genl. Riah Phiyega, nasionale polisiehoof, het vroeër gistermiddag gesê die polisie sal hul volle samewerking gee met enige ondersoek wat uit die voorval spruit.

Benewens die kommissie van ondersoek sal die polisie en die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ook die voorval help ondersoek.

Forensiese kundiges het die toneel van die skietery tot gistermiddag laat ondersoek. Phiyega het gesê senior beamptes van Opod was in beheer daarvan.

Volksblad
«Terug