KAAPSTAD. – Daar is verlede jaar 77771 wettige aborsies in Suid-Afrika uitgevoer, waarvan die meeste in die Vrystaat. Dit was 31% meer as in 2010 toe 59447 wettige aborsies uitgevoer is.
Die jongste syfer is bykans 25000 meer as die jaarlikse gemiddelde syfer vir wettige aborsies in Suid-Afrika vir die afgelope tien jaar.
Die provinsie waar die meeste aborsies uitgevoer is, was die Vrystaat waar 21994 aborsies in 2011 gedoen is. Daar was 12138 aborsies in Noordwes en 11239 in Gauteng.
Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het die syfers gister in antwoord op ’n parlementêre vraag bekend gemaak.
Die ander provinsies se syfers lyk só: Mpumalanga (5908), Limpopo (3143), KwaZulu-Natal (6357), Noord-Kaap (8839), Oos-Kaap (1183) en die Wes-Kaap (6970).
Wetgewing wat aborsies in Suid-Afrika wettig en reguleer, is in 1996 deur die kabinet goedgekeur en word van 1997 af toegepas.
Joe Maila, Motsoaledi se woordvoerder, het gesê die jongste aborsiesyfers kwel die departement erg. “Ons is baie bekommerd oor nie net aborsies nie, maar ook oor die feit dat daar soveel onbeskermde seks in Suid-Afrika plaasvind. Mense gebruik duidelik nie voorbehoedmiddels soos kondome nie en stel hulself dus bloot aan siektes soos vigs.”
Cheryllyn Dudley, ACDP-LP, het gister gesê die ACDP is baie teleurgesteld oor die jongste syfers. “Dit lyk of ons in ’n rigting beweeg waar die waarde van lewe al hoe meer geminag word. Ons land se mense word so verhard. Dit begin by babas wat nog nie gebore is nie en kan gesien word in mynwerkers wat doodgeskiet word.”
Die rede vir die skielike opswaai is onduidelik.
Dudley het gesê die jongste data is egter waarskynlik nader aan die ware toedrag van sake as wat die laaste paar jaar gesien is.
Maila het gesê die departement weet ook dat onwettige aborsies nog gedoen word. “Beter gesinsbeplanning is kritiek.
“Veral die jeug moet meer opgevoed word oor die gevare van onbeskermde seks en die gevolge daarvan.”