HOE langer die Nederlandse regisseur Roel Twijnstra in Suid-Afrika gewerk het, hoe meer het hy onder die indruk gekom van ’n onskatbare rykdom aan verhale in die land. Hy het ook besef dit is ’n rykdom wat ontgin en verwerk moet word sodat die breë publiek daarvan kennis kan neem.
Twijnstra het toe slypskole op die Nasionale Kunstefees in Grahamstad aangebied waar hy op die verwerking van bestaande tekste fokus.
Dit is hoe hy kennis gemaak het met Madonna of Excelsior, die Suid-Afrikaanse skrywer Zakes Mda se boek oor ware gebeure wat rondom 1971 in die Vrystaat afgespeel het.
Toe Jerry Pooe, Twijnstra se vennoot en mede-regisseur, ook die boek se belowende moontlikhede vir ’n teaterproduksie erken, het hulle Kobus Moolman van Pietermaritzburg gevra om die verwerking te doen. ’n Jaar later is die teks in ’n dramaturgiese struktuur gegiet en kon met oudisies vir die rolle begin word.
Pooe, wat vir twee jaar na Pacofs afgevaardig is, het voorgestel dat die toneelstuk in Bloemfontein vervaardig word. Dié akteur, regisseur en skrywer het opdrag gekry om Pacofs van ’n ontvangsteater (receiving house) in ’n produksiehuis te hertransformeer, soos Sukovs voor 1994 gefunksioneer het, en het gereken Madonna is ’n goeie wegspring vir dié pad.
Plaaslike akteurs soos die UV-dramadosent Stephanie Brink en nagraadse dramastudente Marli van der Bijl en Nic Beukes het rolle losgeslaan, asook Mpho Lovinga, ’n oud-Vrystater.
Madonna of Excelsior gaan oor 19 swart vroue van die dorp Excelsior wat met wit mans gemeenskap gehad het in die jare toe dié daad oor die kleurgrens ’n wetlike oortreding was. Die hofsaak het in 1971 plaasgevind.
Die toneelstuk begin in 1995 wanneer Popi, wat uit dié “sonde” gebore is, vrae oor haar herkoms begin vra en waaroor haar ma soos die dood swyg.
Popi se eindelose soeke na haar biologiese pa en die emosies wat daarmee gepaardgaan, asook haar worsteling met die feit dat sy as bruin meisie ’n buitestander is, vorm die kern van die toneelstuk.
Om die beskrywings van Claerhout-skilderye by elke hoofstuk in die boek te weerspieël, het Twijnstra sonneblomme op die dekorstel laat verf en onbegeleide sang as oorbrugging tussen tonele ingewerk.
Roel Twijnstra
Twijnstra, wat in Nederland grootgeword en ’n teatergroep met die vreemde naam Siberië in Rotterdam gestig het, het vir sy opleiding as regisseur na Duitsland uitgewyk. Hy wou eerstehandse ondervinding by die bekende Peter Stein in Berlyn opdoen. Daarna het hy sy kennis verbreed by Peter Brook in Frankryk, Viola Spolin in Amerika en later by Erik Vos and Lodewijk de Boer in Nederland.
Sy werk as regisseur is ook internasionaal, in onder meer Uganda, Marokko, Rusland, Amerika. Maar sedert sy kennismaking met Suid-Afrika, ploeg hy sy ervaring net hier en in Nederland in.
Die huidige kunstestand in Nederland staan hom egter nie aan nie. “Hulle bedryf luukse kuns; dit is hopeloos te elitisties. Buitendien is daar nou te veel kuns en nie genoeg gehore nie.”
In Suid-Afrika vind hy enorme bevrediging en inspirasie uit die akteurs se honger om te leer. “Dit is egter belangrik om by die grondslag te begin – tekste. Om dié rede het ek Twist gestig, ’n maatskappy wat fokus op die ontwikkeling van dramatekste uit die braakland van verhale.”
Die akteurs in Madonna is Diana Maseko (Popi), Dieketseng Mnisi (ou Niki, Popi se ma), Nic Beukes (pa Tjaart/seun Stephanus), Stephanie Brink (Tjaart se vrou, Cornelia), Matshidiso Thinyane (jong Niki), Mpho Lovinga (Popi se broer Vilike), Marli van der Bijl (jong Cornelia), Philisiwe Sithole (Maria) en Madge Ntamo (Mampe).
Die stuk word ná die Bloemfontein-speelvak ook in die Windy Brow-teater in Johannesburg opgevoer.
• Madonna of Excelsior speel van Woensdag tot Saterdag om 19:30, en Vrydag en Saterdag ook om 14:30 in die André Huguenet-teater. Kaartjies: R50. Bespreek by Pacofs, 051-447-7772 of koop by die deur.
Volksblad