Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Amerika se impak gewigtig

Deur: Antoinette Pienaar 2012-06-20 22:56

PRETORIA. – Amerikaners is nou so vet dat hulle besig is om ’n disproporsionele hoeveelheid kos te verorber terwyl mense elders honger ly.

In die proses is hulle ook meer verantwoordelik vir die mensdom se impak op die omgewing.

Navorsers wat gaan kyk het hoeveel die mensdom weeg, meen dit is onvoldoende om ’n bevolkingstal te gebruik om die wêreld se energiebehoeftes te meet.

Lande moet eerder die totale kilogramme tel wat hulle moet voed.

Navorsers van die London School of Hygiene and Tropical Medicine skat die mensdom weeg 287miljoen ton, altesame 15miljoen ton weens oorgewig en nog 3,5miljoen ton weens vetsug.

Hulle het bevind die mens se gemiddelde liggaamsmassa is 62kg.

In Noord-Amerika, die “swaarste” kontinent, is dit egter 80,7kg.

Net 6% van die wêreld se bevolking woon daar, maar meer as ’n derde van die wêreld se vetsugmassa. In Suid-Afrika is dit minder as 2%.

Altesame 61% van die bevolking woon in Asië, maar net 13% van massa weens vetsug.

As almal so swaar was soos die Amerikaners, sou die wêreld se bevolkingsmassa 58miljoen ton meer gewees het.

Dit sou die ekwivalent wees van nog 935miljoen mense van normale gewig of die energievereistes van 473miljoen volwassenes.

Die navorsers sê fisieke aktiwiteit is verantwoordelik vir 25% tot 50% van mense se energieverbranding. Meer energie is nodig om ’n oorgewig persoon se groot liggaam te laat beweeg. Sowat 1miljard volwassenes van oor die wêreld heen is oorgewig.

Mense word al hoe vetter en die navorsers voorspel die mensdom gaan al hoe meer kos benodig wat al hoe duurder gaan word.

Die lande met groot koopkrag, waar die vetste mense bly, sal dit die minste voel. Volgens die navorsers is dit die armes wat gaan ly.

Sarah Walpole, wat betrokke was by die studie, het aan EurekAlert! gesê daar moet na bio-massa eerder as bevolkingstal gekyk word om die ekologiese impak van die mens te oorweeg.

Die studie is gegrond op statistieke van 2005, wat kan beteken dit gaan nou nog slegter.

Daar woon nou meer as 7miljard mense op aarde.

Die Verenigde Nasies skat teen 2050 kan dit groei tot 8,9miljard.

Volgens prof. Ian Roberts, ook een van die navorsers, behoort bevolkingsaanwas en vetsug getakel te word om die impak van die mensdom op die omgewing te stuit.

Volksblad
«Terug