AURORA (Colorado). – Bewerings dat ’n tweede verdagte betrokke was by die massamoord by ’n fliekteater Vrydagoggend vroeg is onwaar, het polisie gesê.
’n Gemaskerde, gewapende man het ten tyde van ’n middernag-vertoning van die nuwe Batman-fliek, The Dark Knight Rises, in ’n stampvol teater op mense losgebrand.
Hy het traangas of rookbomme tussen die gehoor ingegooi en toe op verskrikte fliekgangers begin skiet terwyl hulle probeer wegkom het.
Altesaam 12 mense, onder wie ’n sesjarige meisie en ’n tiener, is dood en 58 beseer.
James Holmes (24), ’n nagraadse student, is kort daarna in hegtenis geneem.
Die name van die oorledenes is intussen bekend gemaak.
Veronica Moser-Sullivan (6) was die jongste slagoffer. Haar ma, Ashley Moser (25), is in die nek en buik geskiet en is in ’n kritieke toestand in die Aurora Medical Center. Sy is soms bewusteloos en weet nog nie dat haar dogter dood is nie.
Die twee Amerikaanse weermaglede wat dood is, was John Larimer (27), ’n lid van die vloot, en Jesse Childress (29), ’n stafsersant in die lugmag.
Jessica Ghawi (24), ’n voornemende sportverslaggewer, en Alex Sullivan, ’n kroegman wat sy 27ste verjaardag gevier het, is ook noodlottig gewond.
Die ander slagoffers was Gordon Cowden (51), Micayla Medek (23), Jonathan Blunk (26), Rebecca Wingo (32), Alexander Teves (24), en Alexander Boik (19).
Die 12de slagoffer is voorlopig as Matt McQuinn (27) geïdentifiseer, maar polisie wag nog vir bevestiging.
Pres. Barack Obama het aangedui dat hy die slagoffers se families sal besoek.
Die voorval het opnuut ’n debat oor wapenbeheer in Amerika laat ontstaan. Luidens berigte het Holmes sy vuurwapens, waaronder ’n semi-outomatiese AR-15-aanvalsgeweer, wettig gekoop.
Hy het ook sy woonstel vol gevaarlike plofstrikke gestel, vermoedelik met die doel om ondersoekers te beseer.
– Sapa-AFP
Volksblad