EEN van die wêreld se bekendste monumente, die Colosseum van Rome, kan verkrummel as daar nie spoedig ingegryp word nie.
Onder meer is vasgestel dat die suidelike kant van die arena reeds 40 cm laer as die noordelike kant is.
Die direkteur van die 2 000 jaar oue gebou, Rosella Rea, het dié nuus in ’n artikel in die Italiaanse koerant Corriere della Sera bekend gemaak.
Rea het die La Sapienza-universiteit in Rome en die Instituut vir Omgewingsgeologie en Geo-masjienwerk gevra om ’n wetenskaplike studie te onderneem om die oorsaak vas te stel. Prof. Giorgio Monti van La Sapienza het gesê daar kan moontlik ’n bars in die oorspronklike fondament wees.
Die Colosseum het in die antieke tyd berugtheid verwerf as die plek waar gladiators mekaar tot die dood beveg het, waar wilde diere Christene verskeur het en waar misdadigers in die openbaar tereggestel is. Bouwerk daaraan het in 72n.C. onder keiser Vespasianus begin en is agt jaar later onder sy seun, keiser Titus, voltooi. Die gebou kon sowat 50 000 mense huisves.
Die Italiaanse miljardêr Diego Della Valle het vroeër vanjaar 25miljoen euro (sowat R26 miljard) aangebied vir die restourasie van die monument, maar die begin van die werk is deur rusies vertraag. Eers was die vakbonde ontevrede en daarna was daar proteste teen Valle se planne om die Colosseum 15 jaar lank vir advertensies vir sy maatskappye te gebruik.
Hy het gedreig om kop uit te trek.
Die Colosseum is maar een van verskeie beroemde Europese geboue wat skeef staan. Die bekendste is die Toring van Pisa, waar daarin geslaag is om die afwyking van 5,5° tot 3,99° te verminder. Ook die Londense Big Ben staan 0,26° skeef, terwyl die toring van Delft se Oude Kerk in Nederland byna 3° oorhang.
Ingenieurs het in al die gevalle daarin geslaag om die torings te stut.
Volksblad