DEN HAAG. – Die Britse premier, David Cameron, is nie ’n mens nie. Hy is inderwaarheid ’n buite-aardse wese.
Altans, só glo sowat 10% van alle Britte.
Dít – dis geen grap nie – is die uitslag van ’n meningspeiling wat in Brittanje uitgevoer is om saam te val met die uitreiking van ’n nuwe videospeletjie, Men in Black III.
Die nuus is Vrydag die eerste keer deur die Daily Star gepubliseer, maar is sedertdien deur verskeie ernstige nuus media opgevolg, onder meer die finansiële webblad Huffington Post.
Die rolprentster Tom Cruise en pres. Barack Obama loop ’n kortkop agter Cameron as mense wat daarvan verdink word dat hulle eintlik uit die buitenste ruimte kom.
Altesame 29% van die Britte is “oop” vir die gedagte dat ruimtewesens tussen die mensdom op aarde woon.
Meer as die helfte glo die regering weet meer oor buite-aardse wesens as wat hy toegee, en sowat 40% meen dit sal ’n goeie ding wees as buite-aardse beskawings kontak met die mensdom maak.
Die 1089 deelnemers aan die peiling is ook gevra wie die mensdom dan sou moes verteenwoordig.
Oudpres. Nelson Mandela was derde op die lys, en die wetenskaplikes proff. Brian Cox en Robert Winston was bo-aan.
Volksblad