JOHANNESBURG. – Facebook gaan meer as 83 miljoen rekeninge sluit.
Die rekeninge is onder meer vals, gedupliseerdes of miljoene van gebruikers wat rekeninge vir hul honde, katte en babas geopen het.
Die sosiale-mediamaatskappy het in sy eerste kwartaalverslag bekend gemaak dat 8,7%, of te wel 83 miljoen van sy 955 miljoen maandelikse aktiewe gebruikers wêreldwyd, eintlik gedupliseerde of valse rekeninge het, berig The Guardian.
Joe Sullivan, Facebook se hoof van veiligheid, het in ’n onlangse onderhoud aan CNN gesê die netwerk is juis gegrond op mense se ware identiteite.
“Facebook is ’n ernstige sakeonderneming en daar is reëls wat gevolg moet word.
“Dít is hoekom die sosiale netwerk meer as 83 miljoen gebruikers se rekeninge gaan sluit,” het Sullivan gesê.
Volgens Sullivan het Facebook bladsye wat aan katte, muishonde en selfs sagtebalspanne toegewy word.
Gebruikers maak egter nie van die regte opsie gebruik nie.
Diegene wat vir Fluffy of Wagter ’n Facebook-bladsy wil hê, moet van Facebook se “bladsye”-opsie gebruik maak.
Die vals rekeninge gaan gesluit word en die skeppers daarvan sal nie toegang kan kry tot die inligting of foto’s wat daarop geberg is nie.
Dié inligting sal deur Facebook in ’n “virtuele dooie sone” gebêre word, waar die skeppers nie daarin sal slaag om ’n nuwe rekening sonder direkte toestemming van die maatskappy te open nie.
Die datum waarop die rekeninge gesluit gaan word, is nog nie vasgestel nie.
Volksblad