Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Grieke stem môre; Europa na aan afgrond

Deur: AGTERGROND: Leopold Scholtz 2012-06-15 22:33

DEN HAAG. – Môre se parlementsverkiesing in Griekeland kan, afhangende van die uitslag, bondskanselier dr. Angela Merkel van Duitsland ’n keuse tussen die duiwel en die diep blou see gee.

Die Grieke moet môre besluit of hulle ’n linkse regering wil hê wat die Europese voorwaardes vir verdere finansiële hulp – streng besnoeiings en ekonomiese hervormings – verwerp, of ’n gematigde regering wat sy bes doen om die vereiste pynlike stappe te doen.

Die leier van die linkse Syriza, Alexis Tsipras, meen Merkel bluf net. As Europa sy finansiële hulp aan Griekeland staak, sê hy, word dié gedwing om die euro te verlaat – en dan stort die hele geldeenheid in duie. En dít sal Merkel nie doen nie, hou hy vol.

Dus eis hy dat Europa, en dus veral Duitsland as die sterkste ekonomie in die Europese Unie (EU), meer geld aan Griekeland moet gee, maar sonder voorwaardes.

Merkel self het egter vandeesweek in ’n toespraak voor haar parlement onomwonde gewaarsku: “Duitsland se krag is nie onbeperk nie. Die pad uit die eurokrisis in die eurosone kan slegs suksesvol wees as alle lande in staat is om die werklikheid te erken en hul krag realisties in te skat.”

Dit was ’n skoot voor Tsipras se boeg: Duitsland sal geen verdere finansiële hulp aan Griekeland toelaat as ’n Tsipras-regering die voorwaardes opskeur nie. Merkel moet in só ’n geval kies tussen twee slegte opsies.

Peilings dui daarop dat Syriza dalk ’n kortkop agter die konserwatiewe Nuwe Demokrate kan eindig. Maar niks staan vas nie.

’n Duitse joernalis, Peter Seiffert, wat drie weke lank deur Griekeland gereis het, rapporteer in die nuustydskrif Focus dat die ekonomiese situasie in dié land, waar die werkloosheidskoers 22% bedra, katastrofaal is: “Ondernemings staan leeg, swaar gewapende polisiebeamptes bewaak die posbank aan die Syntagmaplein in die hoofstad, ganse buurte word as gevaarlik beskou. Regse ‘burgermagte’ maak hul verskyning en inwoners praat van toestande soos ná die Tweede Wêreldoorlog in Duitsland, van vragmotors vol aartappels om mense te voed, van ouers wat hul kinders wil weggee.”

Intussen berig Reuters dat die sentrale banke van die belangrikste moondhede gereed is om gekoördineerde stappe te doen om die markte te stabiliseer indien Griekeland die euro verlaat.

Dis duidelik dat Europa baie na aan die afgrond beweeg.

Volksblad
«Terug