Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Harry laat koninklikes weer bloos

Deur: Leopold Scholtz 2012-08-22 22:18

DEN HAAG. – Prins Harry het die Britse koninklike familie weer eens in groot verleentheid gebring toe ’n Amerikaanse webwerf, TMZ, foto’s van die naakte prins saam met naakte en halfnaakte vroue geplaas het.

Britse media het skoon uitasem oor die saak berig.

Harry (28) was met vakansie in Las Vegas. Verlede Vrydagaand het hy blykbaar ’n groep jong vroue op ’n partytjie in die hotel ontmoet, waar hulle met klere en al in die swembad gespring het.

Video-opnames wys hoe gretig Harry na ’n aantal van die vroue in piepklein bikini’s kyk.

Ná die partytjie het die prins glo ’n paar van die vroue na sy luukse suite genooi, en daar het sowel Harry as ’n onbekende aantal van die vroue van hul klere ontslae geraak. Daarvandaan het dinge al hoe wilder geword, en van die aanwesiges het – bewerige – foto’s geneem. In een is Harry van reg voor afgeneem terwyl hy sy geslagdele met sy hande bedek en van agter deur ’n bostuklose vrou omhels word.

In ’n ander foto druk Harry sy lyf van agter teen ’n naakte vrou vas. Geeneen van die vroue se gesigte is sigbaar nie.

’n Woordvoerder van die prins het bevestig dat die foto’s eg is, maar wou geen verdere kommentaar lewer nie. Dai Davies, gewese hoof van die Londense polisie se afdeling wat die koninklike familie beskerm, het aan The Daily Telegraph gesê die prins is soms ’n “nagmerrie”, maar omdat hy “so ’n pragtige mens” is, word hy gou vergewe.

“Hy is ’n jong man met baie testosteroon, maar daar is ’n ewewig, en soms glip die ewewig.”

Harry is ’n kaptein in die Britse leër en vlieënier van ’n Apache-gevegshelikopter. Hy word oor ’n paar dae terug in Brittanje verwag.

Volksblad
«Terug