TOKIO. – Die hoogste hoeveelheid bestraling tot nog toe is waargeneem in die basis van ’n reaktor van die beskadigde Foekoesjima-kernaanleg.
Dit strem pogings om die gebied op te ruim, het die operateur, Tepco, gister gesê.
Tepco het instrumente van die dak van reaktor 1 laat sak tot net bo die radioaktiewe water onder in die basis. Die vlak van bestraling is op 10300 millisievert per uur gemeet – ’n vlak so hoog dat mense wat daarmee in aanraking kom binne minute siek raak en sterf.
Mense bereik binne 20 sekondes die jaarlikse toegelate vlak van bestraling in die liggaam.
Tepco gebruik robotte by die aanleg om dit te sloop.
Die inploffing van die aanleg is die gevolg van die tsoenami en aardbewing in Maart 2011.
Dit gaan na verwagting 40 jaar neem om die aanleg se vier reaktors af te breek en nuwe tegnologie moet vir dié doel ingespan word. –Sapa-AFP
Volksblad