Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Kiesers gretig om te stem

Deur: Reuters en AP 2012-05-23 22:36

KAÏRO. – Egiptenare het ’n einde gemaak aan die Moebarak-era van meer as 30 jaar deur gister in groot getalle aan hul land se eerste vrye presidentsverkiesing deel te neem.

Die meer as 50 miljoen kiesers het van vroeg af in lang rye by stembusse opgedaag en onder ’n sterk veiligheidsmag-teenwoordigheid begin stem.

Teen gister laat het die stemmery landwyd kalm verloop.

Ná die onlangse parlementêre verkiesing, voltooi die presidentsverkiesing die revolusionêre proses wat 15 maande gelede op Tahrir-plein in die Egiptiese hoofstad begin het. Meer as 1000 Egiptenare het in die onrus wat oor die hele land uitgebrei het, gesterf.

Die afgesette president, Hosni Moebarak, is ondertussen verhoor vir sy aandeel aan die sterftes en wag tans in ’n hospitaaltronk op sowel die uitspraak in sy saak as die verkiesingsuitslag.

Een van die voorste kandidate in die verkiesing, Ahmed Shafiek, is die voormalige hoof van die lugmag en het onder Moebarak, self ’n voormalige vegvlieënier in die 1973-oorlog teen Israel, se bevel gedien. Onder sy vernaamste teenstanders is Mohammed Mursi, van die Moslem-broederskap en Moebarak se voormalige minister van buitelandse sake en voorsitter van die Arabiese Bond, Amr Moussa.

As daar nie ’n algehele wenner is nie, word ’n finale uitklop-verkiesing weer op 16 en 17 Junie gehou om die land se nuwe staatshoof aan te wys.

Volksblad
«Terug