DEN HAAG. – Groeiende kommer oor die lot van Siriese Christene slaan die laaste tyd deur in die Europese en Westerse media.
’n Onderhoud wat deur verskeie ander media oorgeneem is, is dié van eerw. Simon Jacob, verteenwoordiger van die Siries-Ortodokse Kerk in Duitsland, met Bild-Zeitung. Hy het gesê: “In Sirië word die Christene vervolg en verdryf. Daar was reeds wrede teregstellings. Die situasie herinner aan die voortdurende Christenvervolging in Irak. As Assad omvergewerp word, sal die situasie deur die magsvakuum vir die Christene in Sirië verder versleg.”
Daar is sowat 3,2 miljoen Christene in Sirië (10% van die totaal). Hulle is tot dusver in die praktyk deur die regime van pres. Basjar al-Assad in ’n mate beskerm deurdat hy baie streng teen Islamitiese fundamentaliste opgetree het.
Dus is die steun vir Basjar onder Christene relatief groot, eenvoudig omdat hulle vir hul eie toekoms vrees indien die rebelle – wat toenemend deur Islamitiese fundamentaliste oorheers word – die bewind oorneem.
Nietemin berig sowel die New York Times as die BBC dat baie Christene aanvanklik aan die betogings teen die Assad-diktatuur deelgeneem het toe dit nog geweldloos en sekulêr was. Namate die polarisasie toegeneem het, is Christene deur die fundamentaliste onder die rebelle verwerp.
Sowat 80000 Christene is glo reeds uit hul huise verdryf, skryf die New York Times. Baie van hulle het na Turkye of Libanon gevlug.
Die Frankfurter Rundschau skryf in ’n hoofartikel dat aangesien die Christene skaars in die rebellebeweging verteenwoordig word, “moet die Weste daar dringend sy invloed laat geld om hulle en ander minderhede te beskerm – in die burgeroorlog én in die Sirië van ná Assad”.
Die Protestantse dagblad Trouw (Amsterdam) vestig die aandag daarop dat twee Christelike geboue, die Siries-Ortodokse kerk in Homs en die eeue oue Siries-Katolieke klooster Mar Moesa in Nebek, reeds deur bomaanslae verwoes is.
Le Figaro (Parys) skryf die Christene is bang om in hul eie toekoms te belê. Hulle is veral bang dat die toekomstige regering deur fundamentaliste oorheers sal word.
Die parlementêre leier van die Duitse Christen-Demokrate, Volker Kauder, het aan Bild-Zeitung gesê die situasie van die Siriese Christene is “werklik dramaties”. “Ons kyk tans hoe ons ten minste die Christene wat na die buurlande gevlug het, kan help,” het hy gesê.
Volksblad