NEWTOWN (Connecticut). – Sy ma was liewer vir die kinders by die skool as vir hom en was van plan om hom in ’n gestig te sit.
Woede hieroor het dalk gelei tot die moordtog van Adam Lanza (20).
Lanza het sy ma, Nancy, vier keer in die kop geskiet voordat hy Vrydag 20 kinders en 6 volwassenes by die Sandy Hook-laerskool doodgeskiet het.
Nancy was nie ’n heeltydse onderwyseres aan die skool nie, maar het jare lank as vrywilliger daar gewerk. Die meeste van Adam se slagoffers was kinders “waarvoor sy ma die liefste” was.
“Volgens wat ek verstaan, het Adam geweet sy het aansoek gedoen by die hof om hom te laat opneem. Adam was baie ontevrede hieroor. Hy het gedink sy wil hom net wegstuur. Volgens wat ek hoor, was hy baie, baie woedend,” het Joshua Flashman (25), die seun van ’n plaaslike pastoor, gesê.
Dit is onbekend of Nancy wel besig was met sulke stappe omdat hofamptenare sê sulke inligting word verseël.
Dr. H. Wayne Carver II, Connecticut se hoof- mediese ondersoeker, het gesê hy soek ’n genetiese verduideliking vir wat Adam tot moord gedryf het.
Vriende van die familie het aan die media gesê Adam het Asperger-sindroom gehad. Carver het gesê Asperger is geensins verwant aan gewelddadigheid nie.
Dit het ook aan die lig gekom Adam het ’n seldsame oorerflike toestand gehad waar hy nie fisieke pyn kon ervaar nie.
– AP, The Huffington Post, Foxnews