Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Michael Johnson reguit oor Oscar

2012-07-18 00:00

LONDEN. – Hy is in beginsel daarteen gekant dat gestremde atlete soos die lem-naelloper Oscar Pistorius teen nie-gestremde atlete deelneem, het die voormalige Olimpiese kampioen en wêreldrekordhouer Michael Johnson gesê.

Totdat dit nie finaal weerlê is dat ge­stremde atlete met kunsbene – soos dié waarmee Pistorius deelneem – nie ’n “onregverdige voordeel” bo nie-ge-stremde atlete het nie, behoort dié atlete nie toegelaat te word om teen nie-gestremdes deel te neem nie.

Luidens ’n berig gister in die Londense dagblad Daily Telegraphhet Johnson gesê daar is gebreke in die beginsel dat gestremde atlete teen nie-ge­stremdes deelneem.

“My posisie is dat ons nie vir seker weet of die kunsbene wat hy dra, hom bevoordeel nie, en dit is onregverdig teenoor nie-gestremde atlete,” het die voormalige Olimpiese kampioen in sowel die 200meter as die 400m gesê. Hy was ook vier keer wêreldkampioen.

Sowel die Internasionale Vereniging van Atletiek-federasies (IAAF) en die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) het aan Pistorius die groen lig gegee om aan vanjaar se Olimpiese Spele in Londen deel te neem.

Pistorius sal op die Olimpiese Spele, wat oor nege dae begin, vir Suid-Afrika aan sowel die 400meter as die 4x400m-aflos deelneem.

Daarna sal hy ook op die Paralim­piese Spele in aksie wees.

Johnson het dit benadruk dat hy en Pistorius goeie vriende is en dat die 25-jarige Pretoriase atleet weet wat sy standpunt is.

Dit gaan volgens hom nie oor Pisto­rius as mens nie, maar oor die reëls wat neergelê word vir die sport wat op al-mal van toepassing is en nie net op ’n enkele atleet soos Pistorius nie.

“As dit net oor Oscar (Pistorius) gegaan het, sou ek gesê het: ‘Absoluut, laat hom hardloop’,” het die legendarie-se 44-jarige Amerikaanse atleet gesê.

Toe hy gevra is of hy meen Pistorius se insluiting is politieke korrektheid wat die spoor byster geraak het, óf ’n inspirerende menslike storie, het die le­gendariese 44-jarige Amerikaanse atleet geantwoord: “Albei.”

Johnson meen dis onwaarskynlik dat Pistorius die eindronde in die 400m sal haal.

Volksblad
«Terug