Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Mitt stamp kop oorsee

Deur: BRANDPUNT: Leopold Scholtz 2012-07-31 23:44

DEN HAAG. – Die huidige buitelandse reis van Mitt Romney, die Amerikaanse Republikeinse Party se presidentskandidaat, was slim beplan.

Die Britse joernalis Gideon Rachman het vandeesweek in die Londense Financial Times daarop gewys dat die drie besoekpunte – Londen, Jerusalem en Warschau – almal bondgenote van Amerika is wat effens gegrief deur pres. Barack Obama se behandeling voel.

Immers, so skryf Rachman, verwyt die Republikeine Obama dat hy witvoetjie soek by Amerika se vyande, soos Iran, Rusland en China, maar dat hy sy vriende verwaarloos.

En gevolglik is die bedoeling dat Romney wys dat hý wel vir Amerika se bondgenote omgee.

Die probleem is egter dat Romney in Londen en Jerusalem gewys het hy is ’n olifant in ’n porseleinkas.

Hy het die Britte gruwelik beledig deur te kenne te gee die Olimpiese Spele is swak georganiseer (Britte soos die premier, David Cameron, en die Londense burgemeester, Boris Johnson, het onmiddellik vlymskerp teruggekap) en die Palestyne kwaad gemaak deur hulle tydens sy Israelse besoek boonop te ignoreer.

Dis albei flaters wat dalk kan boemerang as hy verkies sou word.

Die Britte is Amerika se naaste bondgenoot.

En ofskoon die Palestyne dit nié is nie, kan geen Amerikaanse president wat vrede in die Midde-Ooste nastreef dit bekostig om dié groep heeltemal te vervreem nie.

Ten tweede sal die reis – en die flaters – waarskynlik slegs ’n marginale uitwerking op die kiesers se stemgedrag hê.

Die Amerikaners is tradisioneel berug vir hul gebrek aan insig en belangstelling in die buiteland.

Wat hulle tans oorweldigend interesseer, is die ekonomie.

Ontleders meen geen dienende Amerikaanse president is nog ooit met ’n werkloosheidskoers van bo 8% herverkies nie – en dis tans 8,2%.

Dit daal wel stadig, maar pynlik stadig, en dis ’n ope vraag of Obama wel die paal gaan haal.

Uiteindelik is daar egter nóg ’n patroon: ’n Kandidaat wat die Wit Huis ná sy verkiesing betrek, maak altyd anders as wat hy voor sy verkiesing beloof het.

’n Pres. Mitt Romney – en, anders as byvoorbeeld oudpres. George W. Bush, is hy geen bobbejaan nie – sal waarskynlik ook gedwing word om versigtig met Amerika se mededingers om te gaan.

Volksblad
«Terug