DEN HAAG. – Die laerhuis van die Nederlandse parlement het ’n mosie ter afkeuring van plaasmoorde in Suid-Afrika verwerp omdat die mosie slegs die Afrikaners as slagoffers noem.
Die mosie is tydens die behandeling van die begrotingsdebat van die departement van buitelandse sake voorgestel deur Raymond de Roon, lid van die ver-regse Partij voor de Vrijheid (PVV). Die mosie is slegs deur twee kleiner regse partye gesteun en deur al die groot hoofstroom-partye verwerp.
Die minister van buitelandse sake, Frans Timmermans, het die parlementslede aangeraai om die mosie nié te steun nie.
Hy het misdaad in Suid-Afrika as “’n groot probleem” bestempel, maar bygevoeg dat die regering “geen onderskeid tref tussen Afrikaners, bruines of swartes” wanneer die moorde beoordeel word nie.
“Dit is steeds so dat veral die swart bevolking die grootste slagoffer van dié geweld is.
“Nederland beywer hom graag vir die intensifering van die beskerming van mense in Suid-Afrika teen misdaad, maar nie spesifiek gerig op een bevolkingsgroep nie.”
Timmermans het gesê die aantal plaasmoorde is steeds “veels te hoog” en Nederland wil die Suid-Afrikaanse regering “in algemene sin” steun om die moordsyfer te verlaag.
’n Jaar gelede is ’n soortgelyke mosie van Kees van der Staaij van die klein Staatkundige Gereformeerde Partij (SGP) om dieselfde rede deur die hoofstroom-partye verwerp.
Volksblad