Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Premier se dood bevestig

Deur: André le Roux en Reuters 2012-08-21 22:34

JOHANNESBURG. – Twee maande nadat Meles Zenawi, eerste minister van Ethiopië, op ’n besoek aan Brussel onder groot geheimhouding in ’n hospitaal daar opgeneem is, het sy land se regering gister bevestig hy is dood.

Twee weke gelede het Ethiopië se staatstelevisie nog berig dat hy na Addis Abeba teruggekeer het en aan die herstel is. ’n Verbod is op dié land se media geplaas om oor die aard van sy siekte te berig.

Staatsinligtingdienste in Addis Abeba wou die afgelope twee maande nie eens bevestig dat Zenawi (57) in ’n Belgiese hospitaal behandel word nie. Dis steeds nie bekend in watter hospitaal hy gesterf het nie.

Sy afsterwe is gister die eerste keer bevestig deur ’n woordvoerder van die Europese Unie (EU) in Brussel wat beweer het Zenawi is eergisternag in ’n hospitaal in Brussel dood.

Eers daarna het die Ethiopiese TV-diens dit bevestig en aangevoer die oorsaak van sy dood is ’n infeksie wat hy in België opgedoen het.

Sedert Zenawi se besoek aan die EU in Brussel is wyd in veral Belgiese media en in Afrika bespiegel dat hy ’n beroerte gehad het en van meet af aan breindood was.

“Dis tyd dat sy (Zenawi se) lyk huis toe gebring word,” het ’n woordvoerder van die Ethiopiese regering gister gesê.

Voor sy “verdwyning” in Brussel is Zenawi deur verskeie Afrika-leiers verkwalik vir sy sterk persoonlike bande met die Weste en met Amerika in die besonder.

Hy is ook deur Islamitiese organisasies tuis en in Oos-Afrika daarvoor gekritiseer dat hy toelaat dat Amerika afstandbeheerde verkenningsvliegtuie en bomwerpers teen Somaliese ekstremiste op Ethiopiese grondgebied toelaat.

Zenawi het by minstens twee geleenthede op Amerikaanse versoek Ethiopiese soldate na Somaliese grondgebied gestuur om basisse van die Al-Kaïda-filiaal Al-Shabaab aan te val.

Hy het die afgelope vyf jaar ook ’n deurslaggewende rol in die afskeiding en afhanklik-wording van die Suid-Soedan gespeel.

Tuis was Zenawi daarvoor bekend dat hy sedert die omstrede verkiesing in 2005 verskeie teenstanders en joernaliste op aanklagte van hoogverraad tronk toe laat stuur het.

Wêreld- en Afrika-leiers, onder wie pres. Jacob Zuma, het hul simpatie met die Ethiopiese bevolking uitgespreek. Sy adjunkpremier, Heilemariam Desalegn, is gister as waarnemende eerste minister ingehuldig.

Volksblad
«Terug