Londen – Prins Philip, die hertog van Edinburgh, is uit die hospitaal ontslaan nadat hy behandeling vir 'n blaasinfeksie ontvang het, het
BBC berig.
Philip (91) het vyf nagte by die Aberdeen- koninklike hospitaal deurgebring. Dit is die derde keer in nege maande dat hy by 'n hospitaal opgeneem word.
Hy is Woensdag na die hospitaal geneem tydens die koninklikes se jaarlikse somervakansie by Balmoral in Aberdeenshire.
Dit is nog nie bekend of hy saam met koningin Elizabeth II op 29 Augustus by die opening van die Paralimpiese Spele gaan wees nie.
Buckingham-paleis het gesê Philip is as "voorsorgmaatreël" in die hospitaal opgeneem. Hy is twee maande gelede – tydens die koningin se jubileumfeesvieringe – ook weens ‘n blaasinfeksie in ‘n hospitaal opgeneem.
Die hertog het Sondag die koninklike familie se besoek aan die oggenddiens by Crathie Kirk misgeloop.
Dokters het aan Philip gesê hy moet rus.
Hy het nie enige besoekers ontvang terwyl hy in die hospitaal was nie, hoewel sy familie gereeld met hom oor die telefoon gesels het.