Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

SA man kry glo Maddie se graf

2012-07-06 21:47

JOHANNESBURG. – Britse speurders ondersoek die bewerings van ’n Suid-Afrikaanse man wat glo hy het moontlik die plek gevind waar die vermiste Britse meisie Madeleine McCann begrawe is.

Stephen Birch, ’n kommersiële eiendomsontwikkelaar van Suid-Afrika, het skanderings vir die Britse polisie gestuur wat volgens hom die grafholte uitwys. Dis naby die vakansiewoonstel in Portugal waaruit Madeleine in 2007 ’n paar dae voor haar vierde verjaardag verdwyn het, het Sky News gister berig. Birch, ’n sogenaamde private ondersoeker, het erken hy het ’n obsessie oor Madeleine se geheimsinnige verdwyning ontwikkel.

Volgens hom het hy sowat R500000 betaal vir die skandeerder en opleiding om dit te gebruik.

“Al wat ek wil doen, is om die raaisel op te los en om afsluiting vir Madeleine se familie te bring. Ek is oortuig sy lê waar ek skanderings gedoen het.

“Ek het die skanderings geanaliseer en dit dui op opgrawings, ’n holte en wat moontlik menslike beendere kan wees,” het hy aan Sky News gesê.

Madeleine (toe vier jaar oud) het ten tyde van ’n gesinsvakansie uit ’n vakansiewoonstel vermis geraak.

Haar ouers, Kate en Gerry McCann, glo steeds sy lewe en wou nie op Birch se bewerings kommentaar lewer nie. – News 24

Volksblad
«Terug