Mogadisjoe – Bruno Pelizzari, wat 20 maande gelede saam met sy meisie, Debbie Calitz, deur Somaliese seerowers ontvoer is, het gesê hy is bly om sy vryheid terug te kry.
"Vandag is ons bly om ons vryheid terug te kry," het Pelizzari aan joernaliste gesê.
"Ons is vandag so bly om weer met ons families herenig te word."
Calitz en Pelizzari het tydens 'n mediakonferensie by die presidensiële paleis in Mogadisjoe geglimlag, maar het baie uitgeput gelyk.
Hussein Arab Isse, Somalië se minister van verdediging, het veiligheidsmagte in Somalië geloof vir hul hulp met die Suid-Afrikaanse paartjie se vrylating.
Die minister het egter nie gesê of die paartjie gered is nie. Dit is ook nie bekend of 'n losprys betaal is nie.
Die paartjie is al 'n paar keer deur verskillende groepe aangehou.
Die seerowers het aanvanklik VSA$4 miljoen (sowat R32 miljoen) geëis en die familie het tot dusver slegs 'n gedeelte van dié bedrag ingesamel.
Calitz en Pelizzari is op 26 Oktober 2010 op 'n seiljag in die Mosambiek-kanaal gyselaar geneem.
Nuus24