Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

'Seksmonster' na klooster

Deur: Leopold Scholtz 2012-08-02 11:13
DEN HAAG. – België word opnuut verskeur deur ’n gruwelike pedofielsaak uit die jare negentig, soortgelyk aan die geval van Gert van Rooyen en Joey Haarhoff in Suid-Afrika.

Dié twee het in Januarie 1990 in Pretoria selfmoord gepleeg nadat hulle ses meisies jonger as 12 jaar ontvoer, verkrag en vermoor het.

Die Belgiese ekwivalent is Marc Dutroux en sy vrou, Michelle Martin, wat in die jare tagtig en negentig eweneens minstens ses meisies van jonger as 12 jaar ontvoer, verkrag en vermoor het.

Dutroux is tot lewenslange tronkstraf gevonnis en sal nooit weer die buitekant van die tronk sien nie, maar Martin het 30 jaar gekry.

’n Regter het nou bepaal sy mag ná 16 jaar in die gevangenis vrygelaat word, mits sy onder toesig in ’n klooster gaan bly. ’n Nonneklooster in die Ardenne het ingewillig om haar in te neem.

Wat Martin se rol buitengewoon maak, is dat daar twee meisies in haar kelder toegesluit was toe sy en Dutroux aangehou is.

Sy het die polisie nie daaroor ingelig nie, met die gevolg dat hulle daar van honger en dors gesterf het. Hul lyke is eers later ontdek.

Die families van die vermoorde meisies het geskok op die uitspraak gereageer.

Paul Marchal, pa van een van die kinders, het gesê as Martin vrygelaat word, wie kan dan nog in die tronk bly? “Wie gaan dan nog sy volledige straf uitdien? Daar is iets met die stelsel verkeerd.”

’n Ander pa, Jean Lambrecks, het gesê die feit dat Martin twee kinders laat verhonger het terwyl sy hulle kón gered het, wys dat sy net so ’n wrede moordenaar soos Dutroux is.

Martin se advokaat, Thierry Moreau, het teenoor verskeie Belgiese media aangevoer sy kliënt is ’n ander mens. Sy het ’n diep gelowige Christen geword, het hy gesê.

Dit word deur die vermoordes se families betwis, wat daarop wys dat sy aanvanklik Rooms-Katoliek was, toe Protestant, daarna Boeddhisties, en nou ewe skielik weer Katoliek. Hulle meen sy is ’n opportunistiese Christen.

Een van die twee slagoffers wat oorleef het, Sabine Dardenne, het op Facebook geskryf ander mense is meer geskok as sy. “Ek is met vakansie, en sy sal my lewe nie nóg ’n keer verpes nie.”

Dardenne, wat intussen in ’n beeldskone blonde vrou ontwikkel het, het ’n paar jaar gelede ’n aangrypende boek, Ek Kies om te Lewe, geskryf oor die drama waartydens sy 80 dae lank deur Dutroux in ’n ysterhok aangehou en herhaaldelik verkrag en mishandel is.

Die ander oorlewende, Laetitia Delhez, het luidens berigte in duie gestort toe sy die nuus verneem. - Die Burger 
Die Burger
«Terug