LONDEN. – Sy uitleweringsverhoor hang soos “die swaard van Damokles” oor hom, het Shrien Dewani (32) se advokaat gister in die Westminister-landdroshof oor die vermeende moordenaar se uitlewering aan Suid-Afrika gesê.
Clare Montgomery, SC, het aangevoer dat Dewani minstens ’n jaar nodig het om te herstel van depressie en post-traumatiese stres-sindroom.
Montgomery is een van die mees gesogte en duurste regsverteenwoordigers in Brittanje. Dewani was nie self in die hof nie en ingeligtes sê hy lyk op die oog af glad nie goed nie.
Sy het voor hooflanddros Howard Riddle aangevoer Dewani is, volgens sy sielkundige, ’n selfmoordrisiko en nie in staat om self te getuig nie, waarskynlik omdat hy nie kan onthou nie. “Hy is pal onder die indruk van sy verhoor en dit vererger sy toestand.”
Die staatsielkundige wat hom monitor, het in ’n verslag wat deur Montgomory aan die hof voorgelê is, gesê Dewani is “geleidelik besig om te herstel” en dat sy toestand “merkbaar verbeter” het.
Ingevolge ’n hofbevel kan Dewani tot Mei 2013 in ’n sielkundige inrigting behandel word, waarna die bevel hersien sal word.
Die hof het gehoor die sielkundige wat deur Suid-Afrika aangewys is om Dewani te evalueer, het aangedui dat hy nie verder Dewani wil evalueer nie.
Geen redes is verskaf nie.
Riddle het gesê die sielkundige moet gevra word om sy besluit te heroorweeg en indien hy steeds weier, redes aan die hof te verskaf waarom hy nie wil nie.
Daar word buite die hof bespiegel dat Dewani se regspan kat en muis speel om sy uitlewering so lank as moontlik uit te stel. Daar is groot media- en openbare belangstelling in die verhoor hier.
Riddle het die verhoor tot 18 September uitgestel, sodat ’n sielkundige wat deur Suid-Afrika aangewys is, ’n verslag aan die hof kan voorlê.
Volksblad