LONDEN. – Die organiseerders van die Olimpiese Spele het tou opgegooi om al die kaartjies vir die sokkertoernooi verkoop te kry en planne onthul om die kapasiteit van sekere stadions te verminder.
Die organiseerder, Locog, het gesê meer as een miljoen kaartjies is nog nie verkoop nie, maar dié syfer is gehalveer deur die kapasiteit van stadions soos die Millennium-stadion in Cardiff in te kort.
Met dié aanpassings is daar nou 250000 kaartjies beskikbaar. Nog 200000 sal ook te koop aangebied word nadat Olimpiese komitees wêreldwyd dié kaartjies teruggestuur het.
Volgens ’n woordvoerder van Locog sal bykans 500000 kaartjies oral onttrek word. – Sapa-AFP
Volksblad