Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Stropers laat hom rooi sien, sê prins William

Deur: Leopold Scholtz 2012-06-19 22:51

DEN HAAG. – Prins William van Brittanje het ’n skerp aanval gedoen op stropers wat renosters in Afrika in groot getalle afmaai.

Terwyl hy ’n renosterkoei in die Port Lympne-wildtuin in Kent gevoer het, het die prins gisteroggend in die BBC se ontbytprogram gesê die stropers is “uiters onkundig”.

“Hulle is selfsugtig. Ek dink hulle is verkeerd, heeltemal en totaal verkeerd. Dit maak my uiters kwaad; dis ’n vermorsing.”

William is beskermheer van die Tusk Trust, ’n organisasie wat die verlies van wild op die openbare agenda probeer plaas. Die Aspinall-stigting, wat die trust hanteer, het pas ’n program begin om drie swartrenosters wat in Brittanje in gevangeskap gebore is, in Tanzanië vry te laat. William het in die program gesê renosters en olifante is die twee spesies wat op die oomblik die meeste onder stropers ly. “As ons niks daaraan doen nie, gaan dit ’n tragiese verlies vir almal wees.”

Hy het gesê die oplossing lê in grootskaalse opvoedingsprogramme om mense te laat insien wat se skade die wildstropers aan die natuur doen. Ook kan toerisme, waarvan Afrika-ekonomieë in ’n groot mate afhang, daardeur geskaad word.

In die program het die kommentator syfers van die Wêreldnatuurfonds aangehaal waarvolgens daar nog sowat 13500 wit- en 4500 swart renosters oor is. Van laasgenoemdes is vanjaar reeds 245 deur stropers vir hul horings doodgemaak. Die fyn gemaalde horings haal tot £38000 (meer as ’n halfmiljoen rand) per kilogram in die sluikhandel.

Charlie Mayhew, hoofamptenaar van die Tusk Trust, het in die program ook gesê waar slegs 13 swartrenosters in 2007 in Suid-Afrika doodgemaak is, was dit in 2011 reeds 434.

Volksblad
«Terug