Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Terreurvoorvalle ‘help’ Sarkozy

Deur: Sapa 2012-03-24 04:39

DEN HAAG. – Die terreurvoorvalle in Toulouse het pres. Nicolas Sarkozy se kans om as Franse staatshoof herkies te word – voorlopig altans – verbeter.

Volgens ’n meningspeiling onder die kiesers is Sarkozy vinnig besig om sy sterkste teenstander, die Sosialistiese mnr. François Hollande, in te haal. Waar hy ’n maand gelede nog 5% agter Hollande gemeet is, loop hy ewe skielik 2% voor – 30% teenoor 28%.

Die regse kandidaat, me. Marine le Pen, het teruggesak tot net 13,5%. Dit dui daarop dat die bitsige bekgeveg tussen haar en Sarkozy oor wie regtig konserwatief is, ruimskoots deur die president gewen word.

Politieke kenners meen die moorde wat die Islamitiese terroris Mohammed Merah in Toulouse gepleeg het, saam met die kopskoot waarmee hy Donderdag in ’n dramatiese skietgeveg met die Franse polisie uit die weg geruim is, iets met Sarkozy se toenemende gewildheid te make het.

Onmiddellik ná die moorde by die private Joodse skool in Toulouse, waar Merah drie kinders en ’n onderwyser afgemaai het, is ’n nie-amptelike wapenstilstand in die presidentsverkiesingsveldtog gesluit. Al die kandidate het hulle na Toulouse gehaas om die televisienuus te haal.

Die verskil is dat die kandidaat Nicolas Sarkozy ’n wapen het wat die ander nie het nie: Hy is president. Hy kon as staatshoof ’n beroep vir nasionale eenheid doen, maatreëls ter bestryding van terrorisme afkondig en presidensieel oorkom, en dit word nou in die peilings vertaal.

Intussen neem die kritiek op die Franse intelligensiediens en die polisie-spesmagte wat Merah in sy woonstel doodgeskiet het, toe. Dit blyk dat Merah se naam op ’n Amerikaanse lys van terreurverdagtes was en dat hy ook by die Franse intelligensiediens bekend was, maar hy is nie behoorlik dopgehou nie.

Volgens die Franse premier, mnr. François Fillon, was daar geen aanduiding dat Merah gewelddadig is nie.

Daar word ook gevra waarom die polisie Merah nie met traangas probeer uitrook het nie, pleks van om hom dood te skiet.

Dit lyk egter nie of die kritiek veel indruk by die kiesers maak nie. Tensy sake skielik anders loop, was Merah onbedoeld Sarkozy se beste verkiesingsagent.

Volksblad
«Terug