WENEN. – Twee oorlede komponiste het onder diefstal deurgeloop – van hul tande.
Die Oostenrykse koerant Krone het onlangs onthul dat ’n Tsjeg wat glo in Praag woon by die graftombes van Johann Strauss II en Johannes Brahms in Wenen ingebreek en hul tande gesteel het. Die koerant het op ’n video op die internet afgekom waarin die tandedief sy eie dade verfilm het. Die vermeende dief staan net as OJ bekend. Hy beweer hy het die tande gesteel om hulle in ’n tandemuseum uit te stal.
Na aanleiding van die koerant se inligting het die Oostenrykse polisie die graftombes verlede week in die middel van die nag oopgemaak en ontdek dat die twee komponiste se skedels (minus hul tande) los van die geraamtes lê. Die Oostenrykse speurdiens stel nou ondersoek in na die saak. As die saak voor ’n hof kom, kan OJ van die “versteuring van doodsrus” aangekla word.
Luidens die koerant is hy 40 jaar oud en stel sedert sy kinderdae belang in tande. Hy het glo reeds as 14-jarige dooie mense se tande begin steel. Hy sien homself nie as geestesiek nie, maar as ’n wetenskaplike en weldoener. Hy het glo by honderde grafte ingebreek. Die saak is al in 2008 onder die polisie se aandag gebring, wat toe gemeen het dis nie die moeite werd om te ondersoek nie.
Die graftombes van Ludwig van Beethoven, Franz Schubert en Arnold Schönberg staan in dieselfde begraafplaas as dié van Strauss en Brahms. Die polisie wil blykbaar ook kyk of húl tande nog is waar hulle moet wees. – Leopold Scholtz
Volksblad