Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Twee grotes stamp dalk vanaand koppe

Deur: Leopold Scholtz 2012-05-22 22:44

DEN HAAG. – Dit sal waarskynlik beleef en bedaard gebeur, maar vanaand is die aand waarop die twee belangrikste leiers in Europa, bondskanselier dr. Angela Merkel van Duitsland en pres. Francois Hollande van Frankryk, hul koppe behoorlik seer teen mekaar kan stamp.

Vanaand kom die regeringshoofde van die 27 lidlande van die Europese Unie (EU) vir ’n informele aandete in Brussel byeen.

Die basiese doel is om die nuweling, Hollande, ’n kans te gee om kennis te maak met die ander 26 leiers, maar alle waarnemers is dit eens dat die aand oorheers gaan word deur ’n debat tussen Merkel en Hollande.

Die groot vraag is hoe om die ekonomiese krisis te oorwin.

Ongenuanseerd gestel, kom dit daarop neer dat Merkel meen die regerings moet hul begrotings in orde kry en nie aanhoudend meer geld bestee as wat hulle inkry nie. Hollande sê hy het niks teen finansiële dissipline nie, maar dit moet gepaard gaan met maatreëls om ekonomiese groei te stimuleer.

Waarop Merkel dan weer antwoord dat sy niks teen ekonomiese groei het nie, maar dit moet nie gefinansier word met geld wat geleen en dus met rente terugbetaal moet word nie.

Die spesifieke maatreël waaroor die twee verskil, is Hollande se voorstel dat die Europese Sentrale Bank euro-obligasies moet uitreik om die stimuleringstappe te finansier. Merkel se beswaar is dat dit neerkom op die druk van geld, wat die inflasie kan opjaag, en bowendien verlig dit die druk op spandabelrige regerings om finansiële dissipline (wat sy as die kern van die saak beskou) te handhaaf.

Die Franse en die Duitse minister van finansies, Pierre Moscovici en Wolfgang Schäuble, het vandeesweek ’n voorbereidende gesprek oor die saak gevoer, maar kon geen ooreenstemming bereik nie.

Merkel self het vandeesweek die meningsverskil na buite as minder belangrik probeer voorstel.

“Frankryk en Duitsland het nie teenoorgestelde sienings nie,” het sy op die G8-beraad in Amerika gesê.

“Ons wil ’n sein gee dat ons gretig is om die globale ekonomie te laat herstel en dat groei en konsolidasie twee kante van dieselfde munt is.”

Volksblad
«Terug