Volksblad

Verkeerschaos by Spele niks nuuts

2012-07-17 22:47

LONDEN. – ’n Busbestuurder wat ’n Olimpiese span in Engeland vervoer het, het vroeër die week die pad behoorlik byster geraak toe hy vier uur lank met ’n bus vol “honger en moeë” atlete verdwaal het.

Kerron Clement, 400m-kampioen van Amerika, het op Twitter gal gebraak oor die swak indruk wat Londen op hom gemaak het.

“Um. Ons het meer as vier uur verdwaal. Dit is nie goeie eerste indrukke nie, Londen,” het hy geskryf.

“Die atlete is vaak, honger en moet piepie. Kan ons asseblief by die Olimpiese dorpie uitkom?”

Clement is lid van die Olimpiese span van Amerika wat van die Heathrow-lughawe met die bus op pad na die Olimpiese deelnemersdorp in Londen was.

“Die organiseerders moet geprys word vir die manier waarop hulle die Spele georganiseer het. ’n Bustoer doen nie afbreuk daaraan nie,” het Patrick Sandusky, woordvoerder van die Amerikaanse Olimpiese komitee, aan Reuters gesê.

Busbestuurders wat gedurende die Spele verdwaal, is niks nuuts nie. Twaalf jaar gelede, toe die Spele in Sydney, Australië, gehou is, was daar ook in die week voor die amptelike opening chaos met die vervoerreëlings. Dit was omdat talle van die busbestuurders van ander stede gekom en onbekend was met die Sydney-roetes, berigSarel van der Walt. Die probleem is opgelos toe die weermag se hulp ingeroep en plaaslike inwoners gevra is om die busbestuurders te help. Die probleem was in ’n oogwink iets van die verlede.

Vier jaar later in Athene, Griekeland, was daar die aand met die amptelike opening chaos met die busse. Talle toeskouers en deelnemers het weens die verkeers­chaos eers etlike ure nadat hulle by die stadion weg is, die Olimpiese deelnemersdorp bereik. Dié probleem is ook dadelik getakel en opgelos.

Volksblad
«Terug