Volksblad

Waaghals spring uit heli en land veilig

2012-05-25 06:00

LONDEN. – ’n Veteraan-waaghals het buite die dorpie Henley-on-Thames die eerste mens geword wat uit ’n helikopter spring en veilig op moederaarde land sonder die gebruik van ’n valskerm.

Gary Connery (42) het dit Donderdag reggekry met die spesiaal ontwerpte “vlerkpak”, ’n kontrepsie wat hom van die grond af soos ’n vlieënde eekhoring laat lyk, maar wat hom in die lug die naaste nog gebring het aan ’n natuurlike vlug wat enige mens tot dusver kon vermag.

In ’n onderhoud met die dagblad The Independent voor die sprong het Connery erken hy is “effens bang”, maar dat hy sy aanhangers – en vroulief Vivienne – sal inlig oor hoe veilig die vlerkpak is sodra sy sprong verby is.

Hy het uit ’n helikopter sowat 730m bo die grond gespring. Hy sou op ’n enorme landingsbaan van meer as 18000 kartonbokse land.

Die skare op die grond het na hul asem gesnak toe dit aanvanklik gelyk het of hy beheer oor sy pak verloor, maar dit was gou duidelik hy kon die pak stuur.

Connery het teen nagenoeg 80km/h in die kartonbokse ingeploeg, maar hy het sonder ’n skrapie opgestaan.

“Ek is oorstelp,” het hy aan omstanders gesê. Is die vlerkpak gevaarlik? “Absoluut nie! Lyk ek beseer?”

Vivienne het haar man met ’n soen gegroet en gesê sy is “verlig alles is nou verby”.

Bron: The Independent

Volksblad
«Terug