Die AfriForum-buurtwagte in die Noord-Kaap (wat Kuruman, Kathu, Upington en Keimoes insluit) het op 19 Oktober aan ’n nasionale patrollie deelgeneem.
Volgens Gonda Louw, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, het dié vier AfriForum-buurtwagte en 217 patrolleerders bykans 4 023 km in 133 voertuie afgelê.
“Agt voorvalle is aangemeld en suksesvol in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) hanteer. Sewe ander veiligheidsinstellings, waaronder gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s), sekuriteitsmaatskappye en die SAPD, was by die patrollies betrokke,” sê Louw.
“AfriForum hou die nasionale patrollies om sigbaarheid en samewerking te verbeter om die veiligheid van ons gemeenskappe te bevorder.
“AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak en self voorkeur aan hul veiligheid te gee. Raak by enige plaaslike veiligheidsinstelling in jou omgewing betrokke en word deel van die oplossing,” sê sy.