Share

Delwers van

’n Diep sug ruk uit die takhaar met die groen kar se lenige lyf. ’n Ysige wind pluk aan sy stowwerige verbleikte hare. Sy vel deur die son tot leer gebrei. In voorspoedige tye was hy “die takhaar met die bontkar” wat ’n dokumentêre rolprent gemaak het om geld in te samel vir ’n diereskuiling in Port Nolloth. Nou bly André Potgieter (53) self in ’n skuiling op Kimberley se diamantvelde.

“Ek weet nie meer of ek kan aangaan nie. Rêrig nie.”

Diamante word toe nié sommer net opgetel nie. Om hom, tussen die doringbome en geel gras, plof die stof in wolke op. Hier en elders om die Diamantstad spit, sif en sorteer sowat 3 000 ander hoopvolles, selfs oud-gevangenes, van heinde en ver.

Aangetrek deur verhale van diamante wat vlak onder die kors vir hulle wag. En sommiges se lewens het glinster met nuwe motors en huise gekry. Ander se lewens bly grou terwyl hulle aanhou grawe.

“Jy moet honderde emmers vol grond breek en sif in die hoop dat jy bokkie.”

Bokkie is om ’n diamant te vind.

Ná sewe maande het die Here hom nog nie ’n diamant besorg nie. Daar moet ’n rede wees, het hy gedink. Hy is na ’n munisipale kantoor om te hoor waar sy vrou se graf is. Hy het haar en al sy spaargeld ses jaar gelede verloor.

Tweede hek, ry G, graf nr. 12.

“Dit was vuil en oorgroei. Daar was nie geld vir ’n grafsteen nie. Toe maak ek dit skoon, en pak klippe mooitjies op die graf. Plant blommetjies. Miskien sal die Here my dan met ’n klippie seën. Dalk dra ek ’n vloek oor my. Ek is ook Bloemfontein toe dat ’n priester my kan reinig.”

Op die diamantveld begin jy in snaakse dinge glo.

You must believe, sê iemand wat verby slof. Wanneer jy dag na eindelose dag grond in hoop in hope sif.

“Toe ek sewe maande gelede hier aangekom het, het ek gehoor iemand sif 200 emmers grond ’n dag. Ek het gedog ek is slapgat. Toe sif ek 420 emmers ’n dag. In die sweet van my aanskyn het ek my sopnat sweetband tien, 12 keer uitgedraai.”

No diamond, no diamond, no diamond, today.

Al het hy en die ander delwers bloed gestort in gewelddadige gevegte met die mynterrein se eienaars.

“Toe ons nog illegal was. Ek het saam baklei. Het nou nog merke op my bene van rubberkoeëls. Die bakleiery was verniet, want nou werk ons tog wettig met mynpermitte.”

Nou is dit ’n stryd om oorlewing.

“Aanvanklik het ek drie weke in my kar geslaap. Toe slaan ek ’n tent op in die kampong, maar daar is ek ook besteel. Nou bly ek in iemand se shack wat sê ek kan haar betaal as ek bokkie.

“Darem ’n bed, ’n kerslig. Ek het al amper al my besittings verkoop. Nou die dag weer my amp verkwansel om ’n vrou wat deur ’n skerpioen gesteek is, hospitaal toe te vat.”

Die lanie met die groen BMW wat almal help. Die bosluise het hom ook al gebyt.

“Ek leef op twee liter Twizza en droë brood elke dag. Ek weet nie meer hoe vleis proe nie.

“ ’n Mens raak so honger dat jou kop spin, asof jy sweef.”

Vroeër jare het hy vir sy boet gewerk, maar dit het nie uitgewerk nie.

“Toe ek hoor ek van dié plek. Comma try this . . .”

Hy maak sy eie growwe en fyn siwwe van skrootmetaal en afvalplanke. Hy wys
hoe hy kluite stukkend kap, sif en in emmers gooi en na die “sorteertafel” dra.

“Die probleem is dat ons nie weet waar die diamante is nie. Dit skuil in uitskothope wat jare gelede bewerk en hier gedump is.”

Die rykste grond is op die sogenaamde floors, waar diamantryke rots dekades gelede op die grond laat verweer is om af te breek. ’n Streep moet hy iewers trek, hoewel hy geld met los werk verdien.

“I cannot go on like this.”

Baie delwers is Kimberliete en het borge wat hul onkoste dek totdat hulle bokkie. Maar André het sonder kind en kraai ingewaai. Sy dae as outo-elektrisiën lankal verby. Miskien mors hy sy tyd. Maar dit is al wat hy nou ken. Sommiges krap al sedert die 1990’s hier.

Obakeng Monyera sê sy Vaal Firm-koöperasie “want ons is vaal van die stof” het verlede Desember ’n grootte gekry. Die inkomste dek hul salarisse, brandstof en kos.

“Ons werk op die tweede New Rush.”

Sy voorvaders het ook op die destydse New Rush (Kimberley se eertydse naam) gedelf. Delf is in sy bloed.

“Ek het al kursusse deurloop om diamante te waardeer, en ons gaan vanjaar nog een van my broers stuur om diamante te leer slyp.”

Die vier vennote is Rastafariërs.

“Ons verhouding is ’n broederskap van vertroue.”

Die meeste van hulle het elders gewerk voor hulle uit diens gestel is.

Monyera wat matriek in two thou four behaal het, kon nie werk vind nie, selfs met ’n sertifikaat in sake-bestuur.

“Nou is ons in beheer van ons eie toekoms. Miljoenêrs in wording. Ek het aandele in my eie maatskappy, met ’n sakeplan, visie en missie.”

Die mynpermitte was die eerste stap.

“Nou moet die regering ons help met behuising en veiligheidstoerusting, soos wat hulle opkomende boere bystaan.”

Die gevegte met die mynmaatskappy het plek gemaak vir die bedreiging van die sogenaamde third force. Die diamanthandelaars wat vroeër diamante op die sluikhandelsmark teen lae pryse van die delwers gekoop het.

“Ons moet nou belasting betaal en geld opsy sit vir pensioen en sieke fondse.”

Indien hulle klippe vind.

“Wanneer jy ’n diamant ontdek, gaan jy nie vra nie, jy gaan wéét dit is een. Want môre is ek ’n miljoenêr,” sê Desmond Williams.

Hy reken hulle herwin diamante, eerder as delf.

“Nogal op ’n omgewingsvriendelike manier want ons gebruik nie water in die ontginningsproses nie, en ons rehabiliteer die grond.”

Hy wys na die klipmurasies van ’n ou myngebou waar hulle grawe.

“Ons is ook argeoloë. Ek dink jare gelede het Duitsers, of Chinese of Amerikaners hier gemyn. Hulle het gedobbel, want ons het ou dobbelsteentjies ontdek. Ook snaakse Chinese skoentjies en ’n ketel.”

Sommige delwers, toegevou in kleurvolle komberse, hurk met hande soekend na vlamme. Wagtend vir die son om bloed, bene en spiere op te warm. Vir een delwer was die nag se koue egter noodlottig. Sy vriende bondel om sy skuiling van afvalplastiekseil. ’n Werfkat staar die verte in.

Die lykswa sluip verby tientalle delwers wat flink met emmers, siwwe, pikke en grawe teen die son tussen bome marsjeer. Want die Vaal Firm het net verlede week weer ’n blinke gebokkie.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
How often do you go to the cinema to watch new movies?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Often - nothing beats the big screen
2% - 26 votes
Hardly - I prefer streaming online
66% - 725 votes
Sometimes - it depends on the film release
31% - 344 votes
Vote
Rand - Dollar
19.15
-0.7%
Rand - Pound
23.82
-0.6%
Rand - Euro
20.39
-0.5%
Rand - Aus dollar
12.30
-0.5%
Rand - Yen
0.12
-0.6%
Platinum
950.40
-0.3%
Palladium
1,028.50
-0.6%
Gold
2,378.37
+0.7%
Silver
28.25
+0.1%
Brent Crude
87.29
-3.1%
Top 40
67,190
+0.4%
All Share
73,271
+0.4%
Resource 10
63,297
-0.1%
Industrial 25
98,419
+0.6%
Financial 15
15,480
+0.6%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE