MILLA! Milla! Koeeeee . . . rrrr! Milla!
Sy kom vinnig oor die plaaswerf aangehardloop - koes-koes vir die reën, woerts op die lessenaar. Snuif-snuif aan die swart koffie, maar trek gou neus op. Dié parmantige meerkat verkies brandewyn.
Maar net ’n bietjie op ’n slag.
Haar beste maat, Emma, volg stertswaai-end op haar hakke.
Hoewel Mila en Emma min in gemeen het nie, gaan dié twee dieremaats nêrens sonder mekaar nie.
Of hulle draadloop, wild kyk of goggas soek. As die wiele draai, ry hulle saam.
Dié vriendskap tussen die meerkatwesie en wegloop-skaaphond het heel onverwags ontwikkel, sê Nadine Barnard, wildbestuurder van Pabala Privaat Natuurreservaat tussen Loerie en Hankey.
“Milla en haar boetie is deur vriende ontdek toe hulle besig was om landerye te ploeg,” vertel Nadine. “Bekommerd dat hulle dit nie op hul eie gaan oorleef nie, het ek dadelik aangebied om die stoutgesig meerkat hans groot te maak.
“Hoewel effens skepties aan die begin, het Emma - wat ons langs die N2 naby Woodridge Preparatory School opgetel het - haar oor Milla ontferm en net so hard help grootmaak.
“Sy het haar begin skoonmaak en met ’n moedersoog dopgehou. As die ander plaashonde durf naby Milla kom, jaag sy hulle knorrend weg.”
Kaskenades
As daar gery word, ry hulle saam.
Nadine lag: “As die wiele draai, ry die twee maats saam - hetsy ons na die wild gaan kyk of die grensdrade inspekteer.”
Wanneer hulle nie ‘werk’ nie, is dit speeltyd.
Nadine lag: “Milla is lief daarvoor om die lang hare tussen Emma se tone te trek - tot háár groot frustrasie.
“Wanneer sy haar nie terg nie, lê sy plat op haar maag voor Emma, tot dié opspring en haar oor die werf rondjaag.”
Brandewyn
Milla is ’n bekende gesig by die natuurreservaat se restaurant, Local is Lekker. Híér loop sy ewe kordaat op die kroegtoonbank rond, spring van tafel tot tafel, snuffel nuuskierig in besoekers se handsakke en geniet ’n slukkie brandewyn en Coke - met ys.
Haar gunsteling bederf: kaas en ham.
“Sy skrop steeds ind ie veld vir haar eie kos,” sê Nadine.
En na ’n lang dag vol opwinding en harde werk, kruip Milla onder Emma se wollerige stert in om te slaap.