‘Is toename in geweld bendeverwant?’

NA ’n skietvoorval in Humansdorp se informele nedersetting, Kruisfontein, en daaropvolgende misdaad, vra inwoners van meer as een gebied of dié gebeurtenisse nie dalk bendeverwant is nie.

Die vrou van ’n bekende sakeman berig dat dit kwalik moontlik is om haar huishulp se vrese te besweer nadat verskeie voorvalle in die afgelope aantal weke die area begin teister het.

Sy het Kouga Express genader vir moontlike insette, sodat die publiek meer bewus gemaak kan word van lewensgevaarlike optredes deur onbekende aanvallers.

Verskeie skote is in die laaste paar nagte in die gebied afgevuur, en op 4 Julie het twee broers ’n man geskiet in ’n parkie waar kinders speel.

Om die een of ander rede het verskeie lede van die gemeenskap daarna voor die kinders se ouerhuis saamgedrom en haar plek onder klippe gesteek.

Die huishulp (sowat 50) leef in angs. Sy is ongetroud en hou na-skools ’n oog oor ’n aantal hoërskoolkinders van die omgewing. Sy weier om snags haar huis te verlaat en vrees ook as sy soggens om 06:30 op straat moet gaan om ’n huurmotor te haal.

’n Ander vroulike inwoner van Kruisfontein was baie versigtig om vrae te beantwoord. Sy was ontwykend oor navrae oor skieters se identiteit en tyd van die skietery, maar het wel gesê dat dit die afgelope tyd baie toegeneem het. Sy was verder net bereid om te noem dat die voorvalle by die SAPS aangemeld is en dat hulle deesdae snags die gebied patrolleer.

Volgens die sakeman se vrou wat die informasie verskaf het, loop daar gerugte dat van die polisie nie geneë is om op te tree nie, omdat hulle glo voordeel sou trek uit die bende se dwelmhandel. Hierdie gerugte is egter onbevestig.

Volgnes Kol. Priscilla Naidu, het bende-aktiwiteite vanaf die Noordelike-gebiede in Port Elizabeth na Humansdorp en omliggende gebiede versprei.

“Die Provinsiale Bende Ondersoekeenheid ondersoek tans verskeie gevalle: die onwettige besit van dwelms en skietvoorvalle wat die afgelope maande in Humansdorp plaasgevind het.”

Volgens Naidu het die polisie onlangs verskeie huise in Humansdorp deursoek. Daar is op dagga, tik, mandrax en kokaïen beslag gelê.

Bende-affiliasies en dwelmhandelaars is ook in hegtenis geneem.

“Die polisie doen ‘n beroep op die gemeenskap van Humansdorp om enige verdagte aktiwiteite of persone, óf anoniem óf vrywillig, aan te meld,” sê Naidu.

“Alle inligting sal opgevolg word.”

Gemeenskapslede met inligting, kan Lt. Kol. Mike Grobler by 082 442 1825 skakel.