Kleuter (4) sterf op ‘pad van dood’

DIE grootste vrees van Jeffreysbaai-padgebruikers is bewaarheid toe ’n vierjarige kleuter van die informele nedersetting op Donderdag, 30 Augustus in Dolphinrylaan tussen Astonbaai en Jeffreysbaai noodlottig deur ’n motor getref is.

Die SAPD ondersoek ’n saak van manslag nadat Godfrey jr. Geswint teen ongeveer 19:00 voor ’n aankomende motor beland en op die toneel dood is.

Na bewering was die bestuurder van ’n groen BMW, die 88-jarige Silvano Pelagatti, van Astonbaai na Jefreysbaai op pad toe die seuntjie skielik voor hom inhardloop en ge-tref is.

Pelagatti beweer dat twee jong seuntjies in die skemer langs die pad by Tokyo Sexwale gestaan het en dat die jongste een plotseling voor hom oor die pad beweeg en voor die motor beland het.

Die bestuurder is kort daarna deur lede van die polisiediens vergesél sodat hy ’n bloedalkoholtoets kon ondergaan. Hy is daarna gearresteer op aanklag van dronkbestuur.

Hy het die volgende dag in die Humansdorp-landdroshof verskyn op aanklagte van strafbare manslag en bestuur onder die invloed van drank. Pelagatti is dieselfde dag op borgtog van R2 000 vrygelaat.

Die saak is uitgestel tot Vrydag, 12 Oktober hangende verdere ondersoek.

Soos gewoonlik het die publiek met wisselende emosies en menings op die skokvoorval gereageer. Hoewel almal met die familie simpatiseer, word daarop gewys dat baie kinders amok maak waar die pad by die woongebied verbygaan. Motors word met klippe bestook, kinders trek motoriste se aandag af, sodat ’n volwassene hul kan beroof, en kinders slaan en stamp teen motors.

  • O

Andere meen die kind se ouers behoort ook aangekla te word, omdat jong kleuters nie daardie tyd van die aand alleen op straat behoort te wees nie.

Daar is ’n algemene gevoel dat rondloperdiere, moedswillige en jong kinders asook veilige bestuursmetodes aandag moet kry om dié en ander paaie te beveilig.

Voldoende helder beligting moet aangebring word, en ouers moet verantwoordelikheid neem vir hul kinders se optrede op die pad.

David du Plessis wys op tipiese stilhou-distansie, spoedreaksie-afstand en remafstand met die volgende syfers: 40 km/u – 7m – 9m; 50 km/u – 21m – 14m; 60 km/u – 25m – 20m; 70km/u – 29m – 27m.

Cassandra Camons bewoord baie inwo-ners se mening in die woorde: “Dit moes een of ander tyd gebeur. Bestuurders is skoon paranoïes om daarlangs te bestuur, omdat kinders motors onder klippe steek.”

Dit het ’n saak van dringendheid geword dat daar dadelik na die inwoners van die gebied se veiligheid omgesien moet word. Misdaadbestande heinings weerskante langs die hele pad en ’n oorbrug is die keuse van baie mense. So ’n brug behoort met staal be-veilig te word, sodat kwaaddoeners van watter aard ook al nie voorwerpe op motors kan gooi nie.

Daar is lankal in plaaslike koerante teen ’n komende tragedie gewaarsku. Nou dat dit ’n realiteit geword het, vra inwoners wat gaan die Kouga Munisipaliteit aan die saak doen – of is die lewe van hierdie een kosbare kind nie genoeg rede om op te tree nie?