Ná 2 eensame jare word die tolhekhond ‘gered’

DIE sogenaamde tolhekhond wat glo al by-kans twee jaar lank vir sy eienaar by die tolhek tussen die Wes- en Oos-Kaap wag, is nou onder die toesig van die Dierebeskermings-vereniging (DBV).

Melanie Botha, leerlinginspekteur van die DBV op Humansdorp, sê die hond is nou in hul versorging en gereed vir aanneming.

“Die hond is deur ’n baie moeilike tyd en benodig nou ’n veilige en liefdevolle huis waar hy baie aandag sal kry,” sê Botha.

Die “tolhekhond”, soos na die swart-en- bruinkleurige hond verwys word, is glo twee jaar gelede deur sy eienaar agtergelaat.

Ronald Cunningham, ’n werknemer by dié tolhek op die N2, sê die hond se naam is Jam en sy eienaar het voorheen by die tolhek gewerk.

Volgens Cunningham het Jam se eienaar van die dorp Covie, naby die tolhek, na Mosselbaai verhuis sonder om Jam saam te neem.

Sedertdien het Jam bykans elke dag die tolhek besoek, skynbaar om op sy eienaar te wag.

Motoriste en Cunningham het Jam deurgaans kos gegee.

Die DBV het onlangs ingegryp nadat hulle bewus gemaak is van knoppe wat aan Jam se lyf gesien word en vrese vir sy veiligheid langs die besige N2.

Verskeie reëlings is getref om ’n vanghok vir die ietwat menssku Jam by die tolhek op te stel, maar dit was oplaas Cunningham wat Jam se vertroue gewen het en hom gevang het.

Botha het Jam Vrydag gaan haal.

Saterdag het Jam ’n afspraak by die veearts gehad om die knoppe aan sy lyf te ondersoek.

Met die ondersoek het die veearts ’n geruis op Jam se hart gehoor.

“Dit is ’n soort hartprobleem. Hy is nie in gevaar nie, dit beteken net sy gewig sal dopgehou moet word, anders kan sy hart skade ly.”

Jam sal weens die hartprobleem ook nie narkose kan kry nie en dus nie gesteriliseer word nie.

“Dit is een van die faktore wat Jam se voornemende eienaar in gedagte moet hou,” waarsku Botha.

Die groeisels aan Jam se regter- en linkersy blyk ook onskadelik te wees. Botha sê die veearts sal eers later die week presies kan sê wat die groeisels is, nadat hy monsters van die groeisels onder ’n mikroskoop ondersoek het.

“Honde kry soms groeisels van ouderdom, wat onskadelik is.”

Die veearts het Jam ouer as 11 jaar geskat.

“Die hond was baie verwaarloos en skrikkerig toe ons hom by die hokke aanbring, maar die volgende dag was hy klaar minder teruggetrokke.”

Hoewel Jam nou gereed is om ’n nuwe huis te kry, meen Botha dat Jam baie aandag van sy nuwe eienaars sal nodig hê.

Hy gaan ’n rukkie neem om mense te vertrou en dit is belangrik dat hy baie aandag kry.

“Ná alles wat die hond beleef het, verdien hy om nou in ’n liefdevolle huis te wees.”